1 Kor. 6:19 – “Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilig Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?”
Ek het [verlede] Saterdag die voorreg gehad om saam met Pauline Nomzamo te hardloop. Sy berei haar op die Comrades vanjaar voor en het iemand in die dorp gesoek om saam met haar te hardloop terwyl sy hier vir drie weke sou werk. Ons sou twee en ’n half uur doen.
Sy is 44 jaar oud en ’n pragtige kind van die Here. Onder andere vra ek haar hoe het dit gekom dat sy begin hardloop het? Sy het ’n mooi verhaal van moed en motivering vir ons almal:
Sy vertel my, al hardlopende – ons was toe so twee ure aan die gang – met haar seun se geboorte op 27-jarige ouderdom het sy 85 kg geweeg. (Sy is kort en pas so onder my arm.) Sy het besef dis te swaar en dat sy ter wille van haar gesondheid ’n plan moes maak. Sy het op draf besluit. In haar omgewing haat die mense hardloop! Sy het begin met 1 km op ’n dag. Algaande het sy verbeter en later 5 km op ’n dag gedoen; later 10 km en meer. Dit was nie maklik om dit vol te hou nie. Ná ’n volle drie jaar het sy haar regte vorm bereik.
Sy het toe 58 kg geweeg.
Sy het by ’n atletiekklub aangesluit, wat haar baie gehelp en gemotiveer het. Later was sy selfs in staat om ’n marathon te doen (42,2 km). Daarna het sy vier Comrades’e gedoen (90 km). Dit was iets wat sy altyd op TV gesien het, maar in haar wildste drome nooit gedink sy sou dit eendag kon doen nie.
Wat ’n boodskap vir elkeen wat drome het rakende gesondheid en grootse take, wat tans soos ’n onmoontlikheid lyk. Hierdie vroutjie werk onder ongemaklike omstandighede wat haar daaglikse draffie betref. Tog kry sy dit reg en doen soggens vroeg 10 km en saans ná werk nog 10 km en dan Saterdae haar stadige lang afstand.
Fil. 4:13 – “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Gebed
Here, ek is waar Pauline destyds was. Help my om te begin en te volhard. Amen.