Crestcare Malmesbury se algemene chirurg, dr. Pieter Snyders (36), het die afgelope week ’n groot mylpaal saam met kollegas by dié hospitaal en boonop die eerste private hospitaal waarby hy betrokke is, gevier.
Skaars vier maande ná Crestcare Malmesbury se amptelike opening, voltooi Snyders sy 100ste teatergeval.
Snyders het in Julie verlede jaar as algemene chirurg begin praktiseer. Voordat hy sy voete in die hartjie van die Swartland kom vestig het, het hy as chirurg by die Worcester-hospitaal begin werk, waar hy waardevolle ervaring opgedoen het en deur drie “uitmuntende” chirurge opgelei is, gevolg deur verdere uitgebreide opleiding by die Tygerberg-hospitaal.
Sy eerste teatergeval by Crestcare het in die tweede week sedert hul opening plaasgevind. Dít was ’n kolonoskopie vir ’n pasiënt al die pad van Citrusdal af. Sy eerste operasie het kort daarna in dieselfde week gevolg toe hy ’n laparoskopiese breuk aan ’n vrouepasiënt moes herstel het.
Sy mees uiterste geval was ’n pasiënt van Calvinia, wat hom “vir ’n maand lank grys hare gegee het”.
“Die pasiënt het in ’n baie kritieke toestand by die hospitaal aangekom en moes veelvuldige prosedures ondergaan voordat hy weer huiswaarts kon keer,” brei Snyders uit. Volgens hom het die hospitaal se personeel, asook verwante gesondheidspersoneel van die dorp, naamlik fisioterapeute, dieetkundiges en wondversorgers, tot dié pasiënt se herstel bygedra.
Snyders beskryf sy ervaring by Crestcare Malmesbury tot dusver as een groot warm verwelkoming.
“Die gemeenskap en die personeel het my met ope arms aanvaar en betrek. Ek is baie gelukkig om hier ’n diens te kan lewer en word baie goed behandel,” vertel Snyders.
Hoewel hy sy professie geniet, is die lekkerste deel van die week op ’n Vrydagmiddag wanneer hy ’n vuurtjie kan aansteek en met sy vrou, Yolanda, oor al die week se interessanthede kan gesels.
Die mees uitdagende element van sy daaglikse bedrywighede vind ook nie noodwendig met teatergevalle plaas nie, maar eerder op die pad werk toe wanneer tarentale hom konfronteer, skerts hy.
Vir hom is chirurgie baie meer as net ’n operasie. “Die insig vooraf of die operasie nodig is en ingeligte besluitneming saam met die pasiënt is waarskynlik die belangrikste aspek. Dit help altyd as die operasie goed afloop en daarvoor het ’n chirurg lank studeer, onder toesig gewerk en baie operasies gedoen om jou vaardighede die beste te maak wat daar is,” brei hy uit.
Dr. Snyders is nog nie vir een oomblik spyt hy het chirurgie as ’n loopbaankeuse gevolg nie. “Ek is elke dag dankbaar om te kan doen waarvoor ek baie lief is en passievol oor is, asook vir die ondersteuning van my familie, vriende en veral my vrou.”