Van die totale hoeveelheid mense in die Swartland wat sedert die uitbreking van Covid-19 positief getoets is, het 3% gesterf.
Altesaam 783 mense het tot op hede in die Swartland positief vir dié virus getoets terwyl 24 sterftes in die gebied aangemeld is.
Volgens ’n inligtingskennisgewing van die munisipaliteit was 18 van die 24 oorledenes inwoners van die Swartland. Ses is van elders, maar is in die Swartland oorlede. Die grootste persentasie sterftes het in die ouderdomskategorie van 60 tot 69 voorgekom.
Uit die 783 positiewe gevalle is 527 in Junie getoets en 97 in die eerste ses dae van Julie aangemeld. Van die totale getal infeksies het bykans 500 ook reeds herstel.
Intussen word Goedgedacht steeds as ’n afsonderingsfasiliteit gebruik en Almond Bridge as ’n kwarantyngebied.
Die munisipale bestuurder, Joggie Scholtz, verduidelik die afsonderingsfasiliteit word gebruik om mense te huisves wat reeds positief getoets het en dus hulself kan afsonder terwyl die kwarantyngerief ingerig is vir persone wat steeds op hul uitslag wag of in kontak was met ’n positiewe geval, maar nie hulself tuis kan afsonder nie.
Tans is daar 15 persone in afsondering met 56 wat al oor die tydperk suksesvol by Goedgedacht in afsondering herstel het. Drie persone is ook al by die kwarantyngerief gehuisves.