Die boom wat die afgelope Vrydag nog die gevreesde bynes teen die Asfalt-atletiekbaan -en veld agter Liebenberg Primêr op Malmesbury gehuisves het, is Saterdagoggend verwyder.
Sharon Ziegers, die waarnemende hoof van St. Thomas Primêr, sê angswekkende oomblikke het gedurende dié skool se atletiekbyeenkoms afgespeel.
Die atletiekbyeenkoms is Vrydag, kort nadat die swerm bye op die toeskouers en leerders van die skool toegesak het, gekanselleer. Die bye het volgens ouers en onderwysers, wat gedurende die voorval daar was, mense begin steek nadat die bynes in die boom glo versteur is.
Luidens ’n verklaring deur Deanna February, woordvoerder van die Wes-Kaapse nooddienste, is ’n noodoproep omstreeks 10:40 die oggend ontvang.
Nooddienspersoneel is met ’n reddingsvoertuig en drie ambulanse na die toneel gestuur.
Volgens February is sowat tien mense deur die bye gesteek en twee mense, onder wie ’n leerder, is na die plaaslike hospitaal geneem en vir steekwonde behandel.
Die atletiekbaan- en -veld is kort ná die voorval ontruim.
Gerugte dat nóg toeskouers na die Malmesbury-hospitaal geneem is, kon nie bevestig word nie.
Ziegers het Maandagoggend bevestig geen verdere voorvalle is by die skool aangemeld nie. Die leerder wat volgens die EMS-nooddienste op die toneel en by die hospitaal vir bysteke behandel is, was terug by die skool.
Die skool se atletiekbyeenkoms sal voorlopig Woensdagmiddag hervat word.