Sy het as 10-jarige dogtertjie begin om naaldwerk te doen. Haar arme ma was vreesbevange dat haar vingers onder die naaimasjien se naald gaan beland, maar het haar tog toegelaat om na hartelus popklere te maak.
So het die gogga gebyt en 40 jaar later is Alta Grobler nog steeds gek oor die kuns van naaldwerk. So veel so, dat sy haar eie naaldwerk-ateljee, Mamma Mia, vanaf haar tuiste bedryf en naaldwerkklasse bied aan kinders wat die natuurlike liefde vir hierdie kuns deel.
Die Strand-inwoner is nie net passievol oor die kreatiwiteit en vaardighede wat naaldwerk verg nie, maar heg ook groot waarde aan die kuns en kinders se kreatiewe spark wat, sy glo, móét gekoester en ontwikkel word, “want dan sal hulle volwassenes word vol kreatiewe-selfvertroue”.
Alta het byna vyf jaar gelede van Knysna na Strand verhuis, en het vertel die plaaslike gemeenskap se plattelandse gevoel en vriendelike mense het hulle sommer gou laat wortelskiet in die Goede Hoop-woonbuurt waar hulle “baie lekker” bly.
Mamma Mia Studio het sy eerste naaldwerkklassie Dinsdag 5 Oktober verlede jaar aangebied. Saam leer jongelinge tussen die ouderdom van ses en 13 speel-speel om baie lief te word vir naaldwerk en om met selfvertroue op die naaimasjiene te werk. “Die kinders verstom my met hul vaardigheid en kreatiwiteit, en dan is daar ook elkeen se unieke persoonlikheid. Dis vir my ’n besonderse voorreg om hierdie pragtige dogtertjies se naaldwerk-tannie te kan wees,” het die 50-jarige met trots gesê.
Alta vertel voorts dat Mamma Mia Studio in hul motorhuis gevestig is. Sy het ’n kantoor en kreatiewe ruimte dringend nodig gehad en haar man het toe die slim plan uitgedink en met baie liefde en welwillendheid die garage vir haar “gegee”. “Ek waardeer die spasie ongelooflike baie en is soos die Engelsman sê, ‘It’s my happy place’. Nog meer benut ek ook die plek waar ek op my gelukkigste is, vir ’n addisionele inkomste.”
Alta is finansiële bestuurder vir ’n groep kunsgalerye en is in die bevoorregte posisie om van die huis af te werk. Haar ateljee is ook haar kantoor van 09:00 tot 14:00 elke dag.
In die ateljee werk sy met elke kind teen hul eie pas, al doen hulle dieselfde projek in die klas, wat beperk is tot ’n maksimum van ses jongelinge. Sy leer hulle om knope aan te werk, basiese borduur- en handwerk-steke, hoe om patrone uit te knip en te verstaan, appliekwerk en hoe om die naaimasjiene te werk.
Mamma Mia spog met 20 “oulike” meisies wat die klasse bywoon. Sommige van hulle kom elke week en ander kom soos hul programme dit toelaat. Alta is egter dankbaar vir elke nuwe maatjie wat bykom en verwelkom hulle met ope arms.
Hul eerste projek was ’n sagte uiltjie. By Mamma Mia Studio, noem hulle ’n gewone rygstekie ’n “dolfyntjie-steek”, want die naald swem deur die lap soos ’n dolfyn wat in en uit die water spring.
“Ek glo enigiemand kan met die regte hulp naaldwerk doen. Leerders wat leergierig is en daarvan hou om nuwe dinge te kan doen, vorder gewoonlik baie maklik. Dié wat aan hul mamma’s sê, ‘Ek wil graag naaldwerk doen’, het gewoonlik alles wat nodig is om hulle ’n goeie leerder te maak,” het Alta gesê.
Volgens die passievolle naaldwerkster bied die kuns meer as net genot en die geleentheid om jou kreatiwiteit uit te leef. Dit help ook ywerige leerders om selfvertroue te bou; dit bevorder fyn motoriese ontwikkeling, hand-oog-koördinasie, en fokus en konsentrasie; help met die ontwikkeling van kreatiewe talent, brein integrasie, probleemoplossing; om geduld uit te oefen; help om praktiese vaardighede soos om ’n knoop vas te werk en ’n soom in te sit, op te bou; dis ontspannend; bied die geleentheid om in die oomblik te leef en groot vreugde wanneer iets klaargemaak is.
Klasse vind Donderdae van 14:30 tot 16:00 en Saterdae tussen 09:00 en 10:30, en 10:45 en 12:15 plaas. “Klasse is R100 vir 120 minute, en ek gee ook gereeld spesiale aanbiedinge en ook ’n goeie afslag as ’n maatjie verwys word.
“Om jou kind vir ’n naaldwerkklassie in te skryf is die beste R100 wat jy ooit sal uitgee. Sy sal dit vir die res van haar lewe onthou en die waardevolle vaardighede kan gebruik tot sy eendag self ’n mamma of ouma is wat haar eie kleingoed leer om handwerk te doen.”
Alta verskaf al die toerusting wat leerders benodig. Belangstellendes kan haar by 082 373 4310 bel.
Meer oor Alta se passie
) Hoe hou jou passie vir naaldwerk verband met die tipe persoon wat jy is? “Ek is ’n baie rustige mens en hou baie daarvan om kreatief te wees. Ek het verskeie stokperdjies en maak onder meer ook juweliersware van porselein, maar naaldwerk was deur die jare maar ’n konstante geliefde stokperdjie.”
) Hoe het jy jou ervaring opgebou? “Ek het op skool naaldwerk as vak gehad en in ons laaste jaar (destyds St. 10) geleer om ’n baadjiepak, met voering en al, te maak. Dit was nogal erg vervelig vir my om ’n hele jaar aan net een projek te werk! Ek het die vakansie daarna ernstig begin om vir myself klere te maak. Ek het ook my eie matriekafskeidrok gemaak. ’n Mens leer mos maar deur nuwe dinge te probeer maak. Ek is dankbaar vir die naaldwerkklasse op skool, dit het my ’n baie goeie grondslag gegee. Daar is ook deesdae baie video’s op die internet wat baie leersaam is. Ek en my kleintydse beste maat het my dogter se matriekafskeid rok saam gemaak. Dit was baie spesiaal vir ons om dit saam te kon doen.”
) Het jy enige doel wat jy op dié gebied nastreef? “Ek droom daarvan om my eie kinderklere-reeks met ’n ouwêreldse (vintage) gevoel te hê. Ek werk al vir ’n geruime tyd aan die konsep en ontwerpe vir Boet en Saartjé.”
) Wat is jou doel met Mamma Mia? “Ek wil graag hê die leerskooltjie moet mooi groei en baie dogtertjies leer om baie lief te wees vir naaldwerk doen! Ek beplan ook om in die toekoms verjaarsdagpartytjies met ’n naaldwerktema aan te bied.”