Broers op heterdaad met gesteelde kabel betrap

Twee broers van Darling is in hegtenis geneem nadat ’n Eskom-koperkabel in hul besit gevind is.


Twee broers van Darling is in hegtenis geneem nadat ’n Eskom-koperkabel in hul besit gevind is.

Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, het die twee mans Dinsdag 12 April in die plaaslike rondgaande hof verskyn nadat hulle Maandag 11 April met die koperkabel betrap is.

Die waarde van die kabel is nog nie bepaal nie.

Filander sê die polisie het ná die ontdekking die twee verdagtes (onderskeidelik 21 en 23 jaar oud) gevra waar hulle die kabel gekry het, en hulle het aanvanklik gesê hulle het die kabel by hul pa gekry.

Volgens Filander is die verdagtes op heterdaad met die kabel betrap nadat die Darling-skrootwerf inligting oor ’n vermoedelik gesteelde koperkabel aan die polisie verskaf het.

Konstabels Howard Petersen en Yolandi Jantjies het die verdagtes in hegtenis geneem.

Filander het ook gesê Eskom- en Telkomkabels word daagliks in die gebied gesteel.

’n Waarskuwing is aan skrootwerwe gerig dat die polisie geensins verdraagsaam teenoor kabeldiewe en diegene sal wees wat gesteelde kabels koop nie.

“Oortreders sal summier in hegtenis geneem word en geregtigheid sal geskied,” het Filander gewaarsku.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.