Van links staan Philip Humphreys (direkteur vir beskermingsdienste), Etienne Du Toit (Wes-Kaapse regering), die uitvoerende burgemeester, Harold Cleophas en Roysten Harris (brandweerhoof).

Die Swartland-munisipaliteit het pas ‘n splinternuwe brandweerwa in ontvangs geneem.

Hierdie moderne voertuig ondersteun die munisipaliteit se vermoë om nood- en rampbestuur doeltreffend te bestuur en te verbeter, soos dit in die geïntegreerde ontwikkelingsplan ten doel gestel word, het die munisipaliteit in ‘n verklaring kort ná die ontvangs van die nuwe brandweerwa gesê.

Die voertuig, wat teen ‘n algehele koste van R3,7 miljoen aangeskaf is, het ‘n beduidende bydrae van R926 000 van die Wes-Kaapse provinsiale regering ontvang.

Hierdie voertuig is spesifiek toegerus om strukturele brande te bestry en kan 3 000 liter water en 250 liter skuim dra. Dit is ook toegerus met verskeie nood- en reddingstoerusting wat dit ‘n gepaste voertuig sal maak om by ernstige motorongelukke te help.

Die nuwe brandweerwa.

Die munisipaliteit het die afgelope tyd gefokus om die vermoë vir brandweer- en nooddienste binne die munisipaliteit te verskerp. Dit het die brandweer se kapasiteit vergroot en ‘n wesenlike verskil aan sy vermoë gemaak.

“Ons raak deur die uitbreiding van ons dienste minder afhanklik van onder- steuning deur buitepartye en dit maak meer geld beskikbaar om in ons eie brandweer terug te ploeg. Ons het ‘n baie waardevolle vennoot in die Wes-Kaapse provinsiale regering wat ons deurlopend ondersteun en hulpbronne beskikbaar stel sodat ons interne kapasiteite vir nood en rampbestuur vergroot.”

Harold Cleophas, die uitvoerende burgemeester, het met die oorhandiging sy dank uitgespreek aan die provinsiale regering wat hande vat en saam met die Swartland-munisipaliteit werk om dienste te verbeter en uit te brei.

Cleophas het ook sy dank en waarde- ring teenoor die brandbestryders vir hul onbaatsugtige toewyding tot hierdie gevaarlike en veeleisende beroep uitgespreek. Hy het gesê die munisipaliteit sal voortgaan om in die groei en uitbreiding van die brandweerdienste tot die voordeel en veiligheid van die hele Swartland te belê.

You need to be Logged In to leave a comment.