Sou dit net ek wees, of wonder ander mense ook oor logika – die logika van baie dinge in ons land?
Vra ’n mens jou woordeboek, dan staan dit daar: Logika is: “1. Die regte manier van redenering;
“2. die regte opmekaarvolging van oorsaak en gevolg;
“3 dinkleer; redeneerkuns”.
En dis juis waar die knoop vir my lê, want ek sien dese dae maar min van die regte manier van redenering, om van die “kuns” daarvan nie eens te praat nie.
Vat nou maar die volgende voorbeeld: Iemand val van sy fiets af of ry in ’n boom vas, dan sê hy die fiets het hom afgegooi. Dis die verkéérde opmekaarvolging van oorsaak en gevolg. Die fiets het hom net so min afgegooi as wat mense op die maan woon.
Vanmelewe, op universiteit, het ’n jong vroulike dosent die klas probeer leer hoe ’n mens logika inspan om ’n geldige argument te voer. Sy vra toe vir die klas op watter maniere kan ’n pad nat word. Een kêrel laat hoor: “ ’n Mens gooi bier op die pad uit, professor.”
Dit was duidelik nie die antwoord wat sy in gedagte gehad het nie, want toe klap sy haar notas op die toonbank toe en verlaat summier die klas te midde van ’n uitbundige gelag.
Maar wat my nou eintlik op die onderwerp van logika gebring het, is ’n voorval oor die naweek. Sondagoggend net ná agtuur was ons al in die winkel om die week se groente te koop, maar ook ’n paar ander goed, soos die botteltjie droë rooi uit die Robertson-distrik.
Toe ons by die betaalpunt kom, seg die een wat die till slaan, eers nadat sy vir ’n ander een aan die ander kant van die winkel gegil het, ons mag nie die botteltjie Robertson koop nie. Ek seg waarom nie? En sy seg dis nog nie elfuur nie en dis die wet tydens die “noodtoestand”. “Waffer noodtoestand”? vra ek.
En toe opeens maak dit ’n duiweltjie in my wakker, want waarom het die regering die reg om vir mý te besluit watter tye ek wat ook al mag koop? Ek is seker dis teen die Grondwet en sou dit graag in die hof wou laat toets.
Toe vat ek ’n komkommer, en ek vra vir die till-slaner: “Hierdie komkommer, hoekom sê die regering nie ook vir my ek mag hom eers ná twaalfuur koop nie?” Stilte. “En hierdie aspersies, waarom sê die regering nie ek mag dit eers ná halftwee koop nie?” Stilte. “En hierdie vleis, ek mag dit eers ná sesuur in die middag koop nie? Dis mos wanneer die vure aangesteek word, so vir wat wil jy dit nou al koop?” Stilte.
Ek ervaar die wynkwessie as ’n blatante vertrapping van ons menseregte. Niemand in ons familie drink hulle dronk nie, allermins nie aan tafelwyn van Robertson, wat maar min alkohol bevat nie.
Dalk kom die morone nog met ’n tydrooster van presies wat ons watter tyd van die dag mag koop. Hulle is mos magsdronk. Net óns mag nie iets koop wat jou dalkies dronk kan maak nie.
Ek maak sommer ’n driedubbele-flip-flop agteroor! Woop-woop-woop!
,