Bouwerk aan die splinternuwe hoërskool in Malmesbury vorder fluks, het die Wes-Kaapse departement van onderwys bevestig. Groot opgewondenheid heers oor dié ontwikkeling, wat eersdaags onder ouers en leerders vir ‘n plek in ‘n skool verligting sal bring.
Die skool is deel van ‘n nuwe uitbreiding teen die Darling-pad in die Wesbank-omgewing. Toegang tot die skool se perseel sal uit die nuwe Sarah Baartman-weg verkry word.
Kerry Mauchline, ‘n woordvoerder vir die minister David Maynier, wat die ontwikkeling as ‘n belegging vir die dorp beskryf, sê die nuwe hoërskool sal grootliks plek maak vir leerders in die Weskus-onderwysdistrik.
Die nuwe hoërskool sal voortaan 1 120 leerders kan huisves sodra die ontwikkeling heeltemal voltooi is.
Die ontwikkeling sluit 30 standaard-grootte klaskamers, ‘n wetenskap-laboratorium en twee veeldoelige klaskamers daarby in.
Daarbenemwens sal die skool toegerus wees met bykomende geriewe soos ‘n groot lokaal vir byeenkomste, ‘n digitale lokaal, ‘n sportveld en kombuisgeriewe, wat na verwagting deel van die skool se voedingsprogram sal wees.
Die openingsdatum van die skool kan in hierdie stadium nog nie deur die departement bevestig word nie.





