’n Botsing vroeër vandag (Donderdag) op die R304 naby Malmesbury het die lewe van ’n 32-jarige vrou geëis.
Volgens ’n Malmesbury-polisiewoordvoerder, sers. Henry du Randt, was ’n vragmotor wat melk vervoer het en ’n bakkie in die botsing betrokke.
Die vragmotor het met nooddienste se aankoms dwars oor die pad gelê terwyl die bakkie op sy dak in ’n stukkie veld langs die pad tot stilstand gekom het.
Die bestuurder van die bakkie, ‘n jong vrou, is op die toneel dood verklaar. Die bestuurder van die vragmotor is na die plaaslike hospitaal geneem.
Die pad was vir ’n geruime tyd gesluit terwyl die toneel opgeruim is maar is intussen weer oopgestel, het Du Randt pas bevestig. Die polisie ondersoek ’n klag van strafbare manslag.
Die identiteit van die oorledene is nie in hierdie stadium bekend nie.