Die NG Kerk Swartland-moedergemeente op Malmesbury kry eersdaags ’n splinternuwe saal op dié kerk se perseel. Dit sal die eerste aanbouings op die terrein wees sedert die destydse moederskamer gebou is.
Die saal gaan onder meer uit ’n jeugsaal, twee badkamers, ’n kombuis en kantore bestaan. Die kerk se ryk geskiedenis, wat ’n groot deel van dié dorp en streek se erfenis vorm, is eers in ag geneem voordat die amptelike beplanning van die nuwe saal kon begin.
Denzil Holloway, die kerk se voorsitter, vertel dat beplanning vir die ontwikkeling, wat aan die regterkant van die kerkgebou opgerig gaan word, reeds in 2020 begin het. Hoewel die Covid-19-pandemie die ontwikkelingsproses laat sloer het, is alles nou gereed.
Chris Murphy, die plaaslike erfeniskonsultant, is gevra om met die nodige permitte te help voordat verdere beplanning kon voortgaan. Die plaaslike Swartland-munisipaliteit het die bouplanne uiteindelik op 31 Desember 2021 goedgekeur nadat die permit van Erfenis Wes-Kaap ontvang is.
Die bestuur van die kerk en alle betrokkenes by die voornemende ontwikkelingsprojek het al die nodige stappe gedoen sodat die projek seepglad kan verloop.
Die kerk het vir jare lank die saal by die De Bron-teater in Voortrekkerweg, wat later deur ’n kleuterskool oorgeneem is, vir saalbyeenkomste gebruik, terwyl die kerkkantoor steeds dáár geleë is. Die kerkkantoor sal nou na die kerkterrein oorskuif.
Die kerk is in 1979 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Dus, met die kerkgebou en die muur om die perseel wat historiese monumente is, asook jare oue grafte wat daar geleë is, was fyn beplanning nodig, vertel Holloway. Noudat die nodige permitte en amptelike goedkeuring verkry is, kon die historiese aspek van die bouprojek voortgaan.
Die argeoloog Jonathan Kaplan, wat as die amptelike verteenwoordiger van Erfenis Wes-Kaap optree, het die bouterrein aan die begin van Mei saam met Murphy en ander betrokkenes by die projek besoek. Van die eerste stappe wat gedoen moes word, was om ’n ou boom te verwyder. Volgens Stefan Mulder van Handy Tree Fellars, wat gevra is om dié delikate taak saam met sy span aan te pak, is die boom sowat 70 jaar oud, hoewel geen presiese rekord van die boom se ouderdom bestaan nie.
Die graf van ene J.P. Coetzer, wat op 10 Januarie 1892 oorlede is, asook dié van sy dogter Anna M.J.E. Van Dyk, wat op 30 November 1897 oorlede is, is geleë op die plek waar die saal gebou gaan word. Anja Huisamen, student-argeoloog onder leiding van Kaplan, is gevra om na die oorledenes se oorskot te soek. Sy het dié graf, wat deur pa en dogter gedeel word, op 5 Mei begin oopgrawe. Sodra enige beendere gevind word, sal die nodige prosedure gevolg word voordat die graf geskuif word.
Sommige artefakte is intussen reeds opgegrawe. Twee ou handvatsels, wat glo van ’n melkkarring afkomstig is, asook ’n staal-emmer, is onder meer tussen die wortels van dié boom ontdek. Volgens Huisamen was die artefakte basies deel van die boom.
Die argeologiese span sal voortaan inligting van alle opgrawings versamel om onder andere die ouderdom en oorsprong daarvan vas te stel.
Volgens Murphy is hulle steeds op soek na enige naasbestaandes van die Coetzer-gesin.
Die argeoloë en erfeniskonsultante sal voortdurend teenwoordig moet wees sodra grondwerk begin plaasvind. Sodra dié fase van die ontwikkelingsprojek afgehandel is, gaan tenders vir boukontrakteurs uitgestuur word.
Holloway vertel verder niemand sal met die muur peuter tydens die bouproses nie. “Die plan is om sandsakke aan weerskante van die muur te pak, tesame met ’n vervoerband, wat sand, gereedskap of implemente wat nie van die voorste ingang gebruik kan maak nie, oor die muur sal dra,” verduidelik hy.
’n Spesiale seremonie word vir die nuwe graf van J.P. Coetzer en Anna van Wyk beplan wanneer die openingseremonie van die kerksaal plaasvind.