Bonnievale Wines se Limited Release-wynreeks het vanjaar uitmuntend presteer tydens die National Wine Challenge (NWC) – ’n internasionaal erkende Suid-Afrikaanse wynkompeti-sie bekend vir sy streng beoordelingsprosedure en top-beoordelaars, en wat fokus op premiumwyne wat daarop gemik is om die Top-100 SA Wyne te bepaal.
Die beoordelaarspaneel by die twaalfde aanbieding van die NWC het Bonnievale Limited Release Cabernet sauvignon 2019 met ’n dubbel-platinum-prys beloon en dié wenwyn is ook onder die Top-100 SA Wyne gelys.
’n Kortkop agter het Bonnievale Limited Release chardonnay 2021 ’n dubbelgoud-eerbewys verower.
“Dié eerbewys onderstreep weer eens ons geloof in ons wyne,” sê Marthinus Rademeyer, Bonnievale Wines se hoofwynmaker.
“Volgehoue gehalte was nog altyd die grondslag waarna ons streef, en om bevestiging van dié ervare beoordelaarspaneel te ontvang, bewys net weer ons groot span produsente lewer gehaltevrugte.”
Sedert hul nooiensoes in 2017 is die Limited Release-wyne geen vreemdeling by die NWC-prysuitdeling nie en was die Cabernet sauvignon ingesluit onder die gesogte Top-100 met die chardonnay kort op sy hakke met ’n dubbelsilwer.
Tydens vanjaar se kompetisie het Robin von Holdt, die organiseerder, beklemtoon die beoordelaars se taak was buitengewoon moeilik aangesien die meeste afdelings uiters mededingend was.
Sy het Bonnievale Wines gelukgewens en gesê: “Die proses was uitmergelend, en uit die sterreeks Suid-Afrikaanse wyne het jul vooraanstaande wyne die podium bereik.”
Meer oor die Bonnievale Limited Release Cabernet sauvignon 2019
Streng wingerdboupraktyk lewer ’n produk bekend vir sy volgehoue gehalte. Die wyne word op klein maat in Franse, Amerikaanse en Europese eikehoutvate verouder.
“Die Bonnievale Limited Release Cabernet sauvignon 2019 vertoon ’n pragtige, skoon rooivrug, veral framboos, met vinkel-ondertone op die neus. Die sappige rooivrug dra deur na die smaak en word ondersteun deur fyn, ryp tanniene, wat struktuur en diepte aan die wyn verleen.
“Die Cabernet sauvignon is vir 18 maande in hoofsaaklik nuwe Franse en Amerikaanse eikehout verouder. Die resultaat is ’n gebalanseerde en goed-geïntegreerde wyn, wat lank ná die laaste slukkie talm.”
Meer oor die Limited Release chardonnay
Die Limited Release chardonnay 2021 het sitrus op die neus, spesifiek lemmetjie en bloedlemoen, wat deurdra na die smaak. Dit is vars en het ’n kenmerkende flintagtige nasmaak. Ook hier is die Franse eikehout, waarin die wyn vir sewe maande verouder is, goed geïntegreer. Dit ondersteun die vrug, maar lewer ook ’n elegante, geronde mondgevoel.