Lactalis Suid-Afrika se 18 maande beleë cheddar, wat uitsluitlik vir Woolworths in Lactalis se aanleg in Bonnievale vervaardig word, is as Suid-Afrika se suiwelproduk van die jaar bekroon.
Die geleentheid was die 189ste Suid-Afrikaanse suiweltoekennings wat Vrydag 25 Maart by die Cavalli-landgoed buite Stellenbosch gehou is.
Die cheddar, ’n volronde kaas met ’n neut-agtige en effens pikante geur, was een van 920 suiwelprodukte van 68 vervaardigers wat om die aandag van die span beoordelaars (60 altesaam) meegeding het.
Altesaam 26 produkte uit die groot aantal inskrywings is met die Qualité-merk van gehalte vereer, terwyl 105 as SA kampioene – die wenners in elke kampioenskapsklas – aangewys is.
“Vir ’n produk om as produk van die jaar in ’n kompetisie van hierdie omvang gekies te word, is die droom van elke suiwelvervaardiger,” sê Alan Fourie, ’n suiwelkenner en die hoofbeoordelaar. “Die Woolworths- 18 maande Mature Cheddar is ’n uitsonderlike produk wat hierdie eerbewys verdien.”
Alban Damour, hoofbestuurder van Lactalis Suider-Afrika, sê sy kaasspan is verheug daaroor dat die gehalte van hul produkte vir die derde agtereenvol-gende jaar erken is. “Ons kaasspan is weer eens geloof vir hul kundigheid en passie asook hul produkte, wat gelykstaande is aan die beste ter wêreld en gunstelinge onder Suid-Afrikaanse verbruikers is. Ons is trots op ons jare lange sakevennootskap met Woolworths, ’n onderneming wat gehalte net soveel as ons waardeer. Lactalis SA waardeer ook die werk wat Agri-Expo doen om die plaaslike suiwelbedryf te erken en te vier.”
Die SA suiwelkampioenskap word reeds sedert 1834 deur Agri-Expo aangebied.
Volgens Johan Ehlers, uitvoerende hoof van Agri-Expo, is dit ’n besonderse voorreg om die kampioenskap vir die 189ste jaar aan te bied, aangesien Agri-Expo, die oudste landbougenootskap in Suid-Afrika, ook 190 jaar van erfenis en 25 jaar van vernuwing vier. “Vernuwing kenmerk inderdaad hierdie gesogte vlagskipprojek oor baie jare,” sê Ehlers. “Ons het die Qualité-merk in 2001 as die enigste merk van uitnemendheid vir Suid-Afrikaanse suiwelprodukte geskep. In 2020 het ons die heel eerste virtuele prysuitdeling in die Suid-Afrikaanse landbousektor aangebied. Verder is ons die enigste organisasie ter wêreld wat ’n groot suiwelkampioenskap deurlopend oor die afgelope drie jaar kon aanbied, wat die weg gebaan het vir die suksesvolle nuwe konsep van ’n hibriede SA Suiwel-prysuitdeling, wat die tweede jaar by die Cavalli-landgoed en terselfdertyd op ons webwerf gehou is.”