MONTAGU – Die Villagers Montagu-rugbyklub het op ’n bestuursvergadering besluit om die ontslape president van die Boland-rugbyunie, Ivan Pekeur, se nalatenskap as rugbyadministrateur te vereer met die skepping van die Ivan Pekeur-klubrugby-wisseltrofee.
Dié oudonderwyser het in sy speeldae self die wit-en-rooi-sesduimtrui met die druiwetros-embleem op die linkerbors oor sy kop getrek. Hy het as losskakel vir Villagers Montagu uitgedraf.
Nadat hy sy rugbystewels vir oulaas weggepak het, het Pekeur hom as skeidsregter gekwalifiseer. Hy het hom goed van sy taak gekwyt en selfs in ’n handvol SA Beker-wedstryde van destyds die fluitjie geblaas.
Hy het later sy fluitjie weggebêre om meer op sy tuisklub, Villagers Montagu, te fokus en het soms hand bygesit by die afrigting van die klub se A-span.
Pekeur is uiteindelik tot voorsitter verkies, waarna hy die klub vir ’n aansienlike aantal jare met groot sukses in daardie hoedanigheid gelei het.
Dié deurwinterde rugbyman, wat vir baie jare ere-president van sy klub was, het hom met verloop van tyd as bekwame rugbyadministrateur onderskei.
Hy is later as hoof van skeidsregtersake by die Boland-rugbyunie aangestel voordat hy die bestuurder van klubrugby by die unie geword het.
In 2014 het Pekeur die leisels van Boland-rugby by Francois Davids (voorheen verbonde aan die Roses United-rugbyklub) oorgeneem toe hy tot president van die unie verkies is. Hy het dié posisie tot sy skielike afsterwe op 27 Desember 2020 beklee.
Die Villagers-bestuur het in samewerking met die rugbyklub Roses United van Wellington besluit dat die twee klubs voortaan elke jaar om bogemelde trofee sal meeding ter erkenning aan die nalatenskap van die oudpresident.
Die betrokke rugbywedstryd sal as die Ivan Pekeur-uitdaagwedstryd bekend staan en sal gedurende dié twee klubs se voorseisoense programme gespeel word.
“Op dié wyse sal Ivan Pekeur vereer word vir wat hy oor die jare vir ons klub beteken het, maar veral vir sy bydrae tot die ontwikkeling van klubrugby in die Bolandstreek,” meen Jimaro Klaase, voorsitter van Villagers Montagu.
Geskiedenis gaan dus gemaak word wanneer Roses United Saterdag (5 Februarie) op die King Edward-sportterrein op Montagu in die eerste kragmeting om die Ivan Pekeur-klubrugby-wisseltrofee meeding.