’n Inwoner van Montagu beplan ’n toernooi vir ’n nuwe vorm van boks vir jongmense in die Langeberg.
Roscoe Pekeur, die organiseerder, sê die toernooi word vir 30 April beplan en sal van 09:00 tot 12:00 by W.A. Rossouw Primêre Skool in Montagu plaasvind. “Ek het die idee eers na die munisipaliteit geneem om die nuwe sportsoort ‘white collar boxing’ aan te bied omdat die aanvraag daarna baie groot is, maar het nie daarin geslaag nie,” vertel Pekeur.
Die doel van die kompetisie is geldinsameling vir onder meer vroeëkinderontwikkeling sowel as om ’n boksliga in die Langeberg tot stand te bring. Die liga sal uit al vyf dorpe in die munisipaliteit se gebied bestaan.
“Ons wil ook plaaslike ondernemings betrek deur hulle die geleentheid te bied om ’n bokser van hul keuse met die nodige toerusting te borg of hul eie bokser in te skryf. Die sport sal ’n vaste instelling in Langeberg word.”
Theo Modise, ’n Suid-Afrikaanse professionele bokser en die Wes-Kaapse hoofafrigter, staan bankvas agter die idee en het ingestem om die wedstrydskeidsregter te wees, sê Pekeur. “Hy het ook ingestem om ’n bokskliniek persoonlik aan te bied om die jeug deur boks ’n nuwe toekoms te wys, weg van die strate. Die idee is ook om afrigters na die Langeberg te stuur en nuwe plaaslike afrigters te ontwikkel om Langeberg se eerste professionele bokser op te lewer.
’n Oefenkamp ter voorbereiding vir die toernooi sal op 3 April by W.A. Rossouw Primêr Skool plaasvind.
Veiligheids- en mediese dienste sal voorsien word. . Skakel Pekeur by 067 744 8669 vir nog inligting oor die toernooi.