NUUS PAS IN: Vier mans is Vrydagmiddag in Darling in hegtenis geneem omdat hulle nie gehou het by die reëls wat ingestel is vir die nasionale staat van inperking nie. Volgens polisiewoordvoerder, sers. Johnatan Filander was hulle besig met patrollies deur die strate van Darling om seker te maak mense is in hul huise en loop nie onnodig rond nie. “Die vier mans, tussen die ouderdomme van 15 en 24 is in hegtenis geneem ingevolge die rampbestuurswet. Die mans was vroeër vandag uit Darling begelei nadat hulle gewaarsku was toe hulle wendyhuise opgeslaan het. Die mans het 12:00 weer terugekom Darling toe met nog ‘n wendyhuis agter op die bakkie en is gevolglik in hegtenis geneem.”
Intussen is nog ses mans, tussen die ouderdomme van 24 en 40, ook in hegtenis geneem omdat hulle onder die invloed van drank was en een persoon (41) is met tik in sy besit gevind. Filander sê hulle, tesame met wetstoepassers, sal deurlopend patrollies doen om seker te maak mense bly in hul huise oor die 21-dae tydperk.
Kinders wat in die strate speel, taxi’s wat op en af ry en mense wat vrylik rondbeweeg. Dít is die prentjie wat talle Swartlanders Vrydag (27 Maart) geskets het op die eerste dag van die 21 dae van algehele inperking wat om middernag ingetree het.
Dit in die lig van die eerste sterfte weens die koronavirus wat Vrydagoggend in Suid-Afrika aangemeld is. Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, het die nuus gedeel. Daar is aanvanklik berig dat twee vroue, onderskeidelik 28 en 48 jaar oud aan die Covid-19 siekte dood is. Die ministrie van gesondheid het egter intussen bevestig dat die toetsuitslae van die 28-jarige vrou, wat in Tygerberg-hospitaal dood is, negatief teruggekom het. Die 48-jarige vrou wat in die Mediclinic Durbanville dood is, het vroeër positief vir die koronavirus getoets.
Intussen het die plaaslike owerhede hul hande vol met inwoners wat hulle doof hou vir die maatreëls soos uiteengesit volgens die staat van nasionale inperking. Die Wes-Kaapse verkeershoof, Kenny Africa, het vanoggend gesê altesaam 17 mense is reeds op provinsiale paaie in hegtenis geneem omdat hulle buite die regulasies opgetree het. “Die regulasies is baie duidelik dat taxi’s en openbare voertuie slegs kan funksioneer tussen 05:00 en 09:00 en tussen 16:00 en 20:00, en ook seker maak dat hulle kapasiteit nie 50% oorskry nie, maar dit blyk daar is nog steeds taxi’s en Avanza’s wat teenstrydig met hierdie riglyne handel en ons wil ’n ernstige dog dringende waarskuwing aan hierdie persone rig dat ons absoluut alles in ons vermoë sal doen om die regulasies streng toe te pas. Asseblief bly binne die regulasies, moenie onnodige kanse vat nie en bly liewers tuis. Bly by die huis, kom ons help ons land en ons provinsie om hierdie virus ’n nekslag toe te dien,” het Africa gepleit.
Ook die polisie in die Swartland moes sedert Vrydagoggend bontstaan om mense terug in hul huise te kry. Talle Swartlanders het op Swartland Gazette se Facebookblad gekla oor die traak-my-nieagtige-houding van hul mede-inwoners. Daar was ook gemengde reaksies oor polisieteenwoordigheid in die dorpe. Baie wou weet waar is die polisie en weermag terwyl mense vrylik in die straat rondloop. In die meeste gevalle het die polisie wel kort daarna inwoners gewaarsku om terug na hul huise te keer. De Kock Valmaree Edwina het geskryf: “In Darling is daar ook geen teken van lockdown nie. Mense loop op en af, kinders speel in die strate! Dis om [van] kwaad te word. Die mense luister nie, hulle is plein selfsugtig!”
Nash-Leigh Cleophas het ook haar mening gedeel. “In Malmesbury ook, die taxi’s ry en mense loop en shop soos normaal. Wat baie weird is, want ons staan tans op 1 000 gevalle waarvan ons twee in die Wes-Kaap aan die dood afgestaan het, maar steeds vat ons dit nie ernstig op nie. Onthou mense die virus dra hom nie self oor nie . . . mense doen!” Ook uit Koringberg het Berandina Jagers laat weet kinders en ouers loop in die straat. “Die polisie ry verby. Almal doen en sê niks.” Paulus Schierhout van Abbotsdale wat in die meelbedryf werk, sê hy is wel vanoggend op pad werk toe deur owerhede van die pad getrek en moes sy permit aan hulle toon om te bewys hy lewer ’n essensiële diens.
Fortune Samuels skryf, “Daar was vanoggend so 07:00 se kant padblokkades in Darling. SAPS en Swartland munisipale polisie het padblokkades by die treinspoor en ook by die uitgang van Darling gehou. My permit en ID en bestuurslisensie getoon.”
Die Swartland-burgemeester, Tjimen van Essen, het intussen ook ’n sterk beroep op inwoners gedoen om by die huis te bly.“Ek wil dit duidelik maak: Bly in julle huise!” Hy sê daar is soveel mense wat van mening is dat die regering nie die regulasies rakende die inperking duidelik gestel het nie en dat die situasie in Suid-Afrika nog nie so erg is dat dit ’n staat van inperking vereis nie. “Almal probeer hulself regverdig oor hoekom ’n kuier of ’n braai of ’n uitstappie mall toe ’n geldige uitsondering is. Oor twee tot vier weke gaan ons spyt wees. Italie, Frankryk, Engeland en nou VSA se dokters vertel gruwelstories van oorvol sale, te min hoësorgeenhede en ventilators, en tog gaan Suid-Afrika en die mense van die Swartland aan asof dit ’n vakansie is. Ek is baie bang vir mense wat se ouers en geliefdes gaan siek word en dán eers die erns van die pandemie besef. Dit gaan dan te laat wees. Dit gebeur nou in die beste hospitale in New York en Suid-Afrika se hospitale begin op ’n agtervoet. So, vir jou eie en jou geliefdes se beswil, gebruik jou gesonde verstand, bly by jou eie huis!”
*Die oorspronklike berig is aangepas om bykomende inligting in te sluit.