Losskakel Teslin du Toit van Blue Birds probeer hier deur die here verdediging van Riviersonderend breek. Foto: Franco du Toit


Die Bonnievale Blue Birds het Saterdag (3 Desember) in die Bolandstadion in Wellington seker gemaak hy word as vanjaar se streekswenner gekroon toe hy Riviersonderend met 34-31 oorwin het.

Die amptelike telling toe die eindfluitjie blaas, was 31 elk en het tot ekstra tyd gelei met Blue Birds wat uiteindelik koning gekraai het.

Die wedstryd het ook op ’n hoë noot vir Blue Birds afgeskop toe die agterspeler Llayten Davids met ’n skitterlopie enkele meter kort van die opponente se doellyn met ’n hoogvat deur sy direkte teenstander, Denoven Mento, gestuit is.

Mento is hiervoor met ’n geelkaart deur die skeidsregter, Shaun Muller, gepos.

Die Blue Birds het sy eerste punte aangeteken toe Aldo September (haker) ’n drie gedruk het.

Nou behoorlik aangevuur, het Davids nog ’n drie aangeteken.

Die Blue Birds se regtervleuel, Steven Stallenberg, het ook met ’n maklike doelskop gespog, wat die telling na 17-0 gebring het.

Riviersonderend het egter nooit bes gegee nie en is beloon met ’n drie deur sy regtervleuel, Jadeone Ellers, wat Mento nie kon verdoel nie.

Die agterstand het verder gekrimp toe Bradley Theunissen (skrumskakel) gaan druk en Mento se doelskop-poging suksesvol was.

Kort voor rustyd het Davids ná ’n volle agterlyn-beweging sy tweede drie gedruk, en Elton Mfundisi het oorgeskop, wat die telling op 24-10 te staan gebring het.

Kort ná die aanvang van die tweede helfte het Riviersonderend sy agterstand verder laat krimp toe sy binnesenter, Angelo Herder, oorgaan en Mento verdoel en die telling 24-17 gemaak het.

Davids het egter sy driekuns voltooi en met Mfundisi se geslaagde doelskop, het die telling tot 31-17 gestyg.

Riviersonderend het egter weer sterk in die prentjie verskyn toe Eric Mentoni (flank) oorgaan en Mento verdoel om die telling 31-24 te maak. Die Blue Birds se kaptein, Adrian du Toit, is hierna met ’n rooikaart van die veld gestuur ná ’n tweede oortreding, en Roland Hunter (linkervleuel) van Riviersonderend ’n gaping gegee het om die telling op te stoot na 31 elk. ’n Bykomende 10 minute is toe gespeel, met Blue Birds wat eerste punte aangeteken en as die wenners gekroon is.

You need to be Logged In to leave a comment.