Die blommeseisoen is hier en vandeesmaand het besoekers aan Sanparke die geleentheid om die park gratis te besoek.
Sanparke, wat die Weskus Nasionale Park insluit, vier die begin van die jaarlikse blommeseisoen en verwag ’n skouspelagtige seisoen.
“Ons is opgewonde oor vanjaar se blommeseisoen. Hoewel ons ’n aansienlike afname in reënval gedurende die winterseisoen gehad het, behoort die veld binne die volgende twee tot drie weke in volle blom te wees.
“Tydens Augustus en September sal besoekers aan die park ’n wye verskeidenheid blomme op uitstalling sien – van madeliefies tot bolle. Groot veldblomme kan ook in die Seeberg- en Mooimaak-gedeelte van die park gesien word,” sê Patricia Bopape, die plaaslike parkbestuurder.
“Besoekers wat die park vir blomme besoek, moet liefs op sonskyndae kom. Naweke is veral besig met besoekers wat in rye staan, wat ’n opeenhoping in die blommegebiede kan veroorsaak.”
Bopape stel voor besoekers moet beplan om die park in Langebaan op weeksdae te besoek. Die Postberg-reservaat binne die park is veral bekend vir sy blomme. Dié gedeelte van die park is vandeesmaand tussen 09:00 en 17:00 oop. Die laaste besoekers word om 16:30 ingelaat.
In September sal die reservaat tot 19:00 oop wees, met die laaste voertuie wat 18:30 ingelaat sal word.
Weskussers wat tot September kan wag om die park te besoek, sal van 11 tot 16 September gratis toegang tot die park geniet.
Parke-week word sedert 2006 gevier en is ’n geleentheid vir plaaslike inwoners om ’n pasella besoek te geniet.
“Die week is gestig in ’n poging om ’n gevoel van trots vir Suid-Afrika se natuurlike, kulturele en historiese erfenis, beskerm deur die nasionale parkestelsel, te kweek,” verduidelik Hapiloe Sello, waarnemende uitvoerende hoof van Sanparke..Vir individuele datums om die 22 deelnemende nasionale parke te besoek, besoek die webwerf http://www.sanparks.org/about/events/parks_week/default.php




