“Die bibberweer is op ons. As ek die kinders hier rondom ons sien swaarkry, dan wéét ek: As elke mens met ’n goeie hart hierdie winter saamwerk, sal talle kinders se lewe hierdie koue winter beter lyk.”
Cynthia Slingers van Malmesbury se jare van omgee, dapperheid en toewyding vir diegene wat swaarkry, het nog nooit verflou nie.
Daarom begin sy nou die Borg ’n Bibberpakkie met die doel om dié pakkies aan minstens 70 kinders, wat gereeld by Malmesbury se sewe huise van veiligheid gehelp word, op Jeugdag uit te deel.
Die personeel by hierdie huise van veiligheid is goed opgelei in traumaberading en verleen daagliks hulp aan verwaarloosde kinders.
“Ons het die kinders oor die jare by hierdie veiligheidshuise reg deur die dorp leer ken en verstaan. Hierdie huise bied regtig ’n veiligheidsanker aan kinders wat dit dringend nodig het.
“Ek sien so dikwels kinders wat swaarkry, dan besef ek hoe belangrik is dit om hier, op ons voorstoep, hulp te verleen. Ek besef sake soos die oorlog in die Oekraïne en die Natalse vloed verdien hulp, maar wat van ons eie kinders?”
Wil jy dalk betrokke raak by Borg ’n Bibberpakkie? Verpak ’n kombers, ’n paar sokkies, ’n warm mussie plus ’n boksie “Cup a Soup” in ’n mooi sak of boksie; skryf bo-op of die inhoud bedoel is vir ’n seun of meisie, en of die sokkies en mussie klein (S), medium (M) of groot (L) is. Laai dit dan teen Vrydag 10 Junie by die Malmesbury-biblioteek of Wesbank-biblioteek af, en maak só ’n verskil in ’n kind se lewe.
Slingers is bekend vir die geestelike leiding wat sy reeds jare lank in die gemeenskap verrig; voorheen saam met haar oorlede man, ds John Slingers.
Haar dinamiese geldinsamelingsprojekte behels onder meer R15 miljoen in net een maand vir die internasionale SOS-kinderdorpe in Natal, en meer onlangs wow-tipe geldinsamelings vir die Leliebloem Huis vir kinder- en jeugsorg in Kaapstad.
Op plaaslike vlak het sy só ontsteld geraak toe sy besef vroue en kinders, wat die slagoffers van huishoudelike geweld was, moet boonop in polisieselle oornag, dat sy in samewerking met die Swartland-munisipaliteit die Dahlia-huis op Malmesbury tot stand gebring het – ’n huis waar slagoffers van geweld en gesinsprobleme eers tot verhaal kan kom voordat hulle die lewe verder in die oë moet kyk.
Haar geldinsamelingsprojekte word deurentyd gekenmerk deur eerbaarheid en deursigtigheid.