MONTAGU – Sy aanstelling as studentekonstabel in die destydse Suid-Afrikaanse Polisiemag (SAP) sal altyd iets baie spesiaals wees.
Daardie dag sal hy altyd onthou en koester so lank hy leef. Eintlik beskou hy daardie gebeurtenis, sowat 36 jaar gelede, as ’n vroeë hoogtepunt in sy lewe.
Só vertel lt.kol. Jaques le Roux (55), tans bevelvoerder van die speurtak op Montagu, wat vandeesmaand van kaptein tot luitenant-kolonel bevorder is.
Die rede waarom Le Roux byna nostalgies raak oor die dag van sy aanstelling, is omdat sy eie pa, die ontslape oud-adjudantoffisier Gabriël Johannes le Roux, hom self op 1 Januarie 1986 op Bellville as ’n polisiebeampte ingesweer het.
“Dit was ’n besonderse geleentheid vir my, sowel as vir my pa – veral vir my pa. Dit was ’n groot en ’n trotse oomblik in sy lewe. Kan jy dink hoe trots sou hy vandag gewees het?” vra Le Roux met ’n breë glimlag en veraf kyk in die oë.
Le Roux het sy basiese polisie-opleiding by die polisiekollege in Pretoria ondergaan en daarna, van Junie 1986 af, in Brackenfell as ’n skoflid gewerk.
Vanaf 1987 tot 1989 is hy na die destydse Suidwes-Afrika (Namibië) waar hy twee jaar lank grensdiens verrig het.
Ná sy grensdiens is hy terug Brackenfell toe vir ’n ruk, maar in 1990 is hy na Bonnievale verplaas. Hoewel hy die werk as lid van die uniformtak baie geniet het, het speurwerk hom altyd geïnteresseer, vertel Le Roux.
Dit is dus daarom nie vreemd dat hy in 1991na Bonnievale se uniform-ondersoektak geskuif en daar begin werk het nie. Dit was basies die begin van sy loopbaan as speurder.
Le Roux het in 1996 om sy ondersoekvaardighede verder verskerp en ’n ses weke lange speurderskursus aan die Bishop Lavis-polisieakademie ondergaan. Hy het uitstaande werk in die kursus gelewer en het aan die einde daarvan met die louere as beste student weggestap.
Dié passievolle speurder se harde werk is ook deur sy seniors raakgesien en hy is later as takbevelvoerder van die speurtak by die Bonnievale-polisie aangestel.
Hy is op 1 Maart 2009 tot kaptein bevorder en is daarna as die bevelvoerder van die misdaadkantoor by die Robertson-speurtak aangestel.
Le Roux het van 2012 tot 2017 diens as sub-seksiebevelvoerder van ernstige en geweldmisdaad by die speurtak op Robertson gedoen.
Hy is in 2017 as bevelvoerder van die Montagu-speurtak bevorder – ’n pos wat hy tot einde vandeesmaand beklee.
Dié ervare en toegewyde polisieman het in sy lang polisieloopbaan van 36 jaar verdere kursusse suksesvol voltooi, waaronder as ondersoeker van seksuele misdrywe; die speurderbevelvoerder-leerprogram; en die junior bestuurder-leerprogram (ook hier was hy die beste student), om slegs ’n paar te noem.
Met sy huidige bevordering tot luitenant-kolonel word Le Roux verplaas na die Lentegeur-speurtak in Mitchell’s Plain, waar hy van 1 Februarie af die nuwe speurtakbevelvoerder sal wees.
“Ek besef ek verruil die rustige plattelandse lewe vir die vinniger Kaapse lewe. En ek is deeglik bewus dat daar nuwe uitdagings oor my pad gaan kom.
“Maar ek dink ook, namate die tyd aangestap het, is ek goed geslyp vir die taak wat voorlê,” sluit die speurder met meer as drie dekades ondersoek-ervaring agter die blad, betekenisvol af.