Beurtkrag gee stilte

Die negatiewe gevolge weens die nimmereindigende vlaag beurtkrag laat geen lig in die tonnel skyn nie, maar die silwer randjie is die geskenk van tyd.


Die negatiewe gevolge weens die nimmereindigende vlaag beurtkrag laat geen lig in die tonnel skyn nie, maar die silwer randjie is die geskenk van tyd.

Dis ’n tyd vir stilte, jouself of kosbare samesyn soos uit die oudedoos – indien jy jou prioriteite net eenvoudig so instel om daarvan gebruik te maak.

Hier verskaf Paarl Post nie net opsies om beurtkrag meer draaglik te maak nie, maar die ingesteldheid om dit tot jou voordeel te gebruik:. Ete by kerslig: Dit is nou nie juis oorspronklik nie, maar hoe gereeld is kitskos of ’n wegneemete nie die maklike keuse wanneer die kat op die stoof sit nie? Neem die geleentheid om daai gegeurde kerse aan te steek met ’n verskydenheid vingerhappies soos kase, olywe, biltong en pasteitjies saam met ’n glas wyn en jou geliefde. Skep die nuanse om te romantiseer of ’n gesellige piekniek in die sitkamer saam met die kinders te hou.. Kampvuur-avontuur in die tuin: Hoekom moet ’n mens alewig die kar pak, afpak, opslaan en ver ry om te kamp? Jy het mos die beurtkrag-skedule – pak dus die hout vir ’n lekker “atmosvuur” en beplan jou kampvuur-maaltyd. Kry die kampgereedskap, wat deur die jaar staan en stof opgaar, soos die blik-ketel by die kampgoedwinkel en die potjiepot of braairooster, gereed. Sit saam met die kinders, jou buurman of nooi jou vriende wat jy hopeloos te lanklaas gesien het. Geniet die ervaring van kamp en koester samesyn sonder die gedruis van elektriese toestelle wat ons aandag so maklik aflei van die dinge wat saakmaak.. ’n Aand onder die sterre: Daar is iets besonders aan die gedruis wat ewe skielik verdwyn en die omgewing in duisternis verdrink. Die donkerte verhelder die sprankelende sterre in die donkerblou hemelruim wat deur moderniteit met sintetiese ligstrale verdoof word. Rol jou kombers uit oor die gras en lê net rustig onder die maanlig en bekyk die Suiderkruis-konstellasie. Verken die hemele in die algehele afsondering van tegnologie – soos die mensdom gedurende die oertyd.. Bederf jou geliefde: Om jou ander helfte te bederf, is uitdagend wanneer die lewe se vereistes ophoop. Die dooie trant van roetine kan veroorsaak dat jy jou naastes afskeep. ’n Rug- of voetmassering is ’n klassieke manier om te ontspan en jou wederhelf se stresvlakke te tem. Vir dié doel is elektrisiteit ook nie noodsaaklik nie. Dit hoef nie juis eensydig te wees nie – maak beurte om mekaar te bederf!. Bordspeletjies, kaartspeletjies en legkaarte: Hierdie voorstel is vanselfsprekend, maar aangesien slimfoontoepassings byna enige vorm van vermaaklikheid vervang, dien dit slegs as herinnering van outydse tydverdryf. . Foto-albums, verlede-verhale en kindersprokies: Daar kom ’n tyd wat iemand willekeurig ’n ou foto-album uitkrap en in die goeie ou dae vertoef. Kerslig kan tog nostalgie bied in die stille donkerte terwyl die gesin saam sit en terugdink aan wat voel soos ’n vorige leeftyd. Dis ’n tyd vir kindersprokies wat vertel kan word teen die agtergrond van handgebare se silhoeët in die kollig van ’n flitslig. En wat het geword van die mooi gebaar om vir mekaar voor te lees? Kraak ’n storieboek oop en laat jou verbeelding ’n storie skets eerder dat ’n fliek dit vir jou doen.. Stiltetyd: Beurtkrag is ’n gepaste gleuf in tyd om huisgodsdiens of eensame stiltetyd in te pas. Prioritiseer jou verhouding met jou skepper en besin oor al die maniere waarop jou lewe verryk en geseënd is. Gebruik die tyd, donkerte en stilte om jou seëninge te tel.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.