Dit wil voorkom asof dit ’n wonderwerk sal wees as ons nie waterbeperkings in die gesig staar nie.
Die watervlakke van damme is die helfte minder as dieselfde tyd verlede jaar en ons weet hoe droog en genadeloos die Swartlandse somers kan wees.
Waterbeperkings kan moontlik al in die lente aangekondig word.
Dit sal beteken dat ons elektrisiteit- én watergebruik beperk word. Skielik klink Eskom se lasbeheer nie meer na so ’n geweldige las nie, want daar is alternatiewe vir elektrisiteit, maar wat is die alternatief vir water?
Owerhede doen nou reeds ’n beroep op inwoners om water te bespaar en dit sal in almal se belang wees om positief te reageer op die beroep.
Daar is eenmaal gehoor hoe ’n inwoner sê sy weier om water te bespaar omdat dit die munisipaliteit se sogenaamde verantwoordelikheid is om te sorg dat daar water uit die kraan kom wanneer sy dit oopdraai.
Uit hierdie opmerking kan afgelei word sy besef nie dat water eers uit die hemel moet val voor dit in haar kraan beland nie. Sy besef dalk ook nie dat die munisipaliteit in hierdie geval net tot so ver kan help en nie verder nie.
In winkels is daar ’n oorvloed produkte om van te kies; daar was nog nooit in die geskiedenis van die westerse wêreld en ontwikkelde lande die oorvloed en wye keuse van materialistiese goedere soos vandag nie. Dit alles sal ons niks baat as daar nie water is nie