Villagers Montagu en Rangers Robertson spook om besit van die bal tydens hul eerste Grootuitdaagbeker-ligawedstryd.


MONTAGU – Rangers RVK van Robertson het sy veldtog in vanjaar se Grootuitdaagbekerkompetisie van die Boland-rugbyunie op hoë noot afgeskop.

Rangers Robertson en Montagu Villagers het mekaar op die King Edward sportterrein, die tuisveld van Villagers, in hul eerste ronde in die Grootuitdaagbeker-rugbykragmeting, gepak.

Rangers het ’n baie goeie rugbydag gehad nadat al drie sy spanne – die A-, B- en C-span – koning gekraai het.

Die hoofwedstryd van die A-spanne was ’n naelbytstryd waarvan die uitslag tot in die doodsnikke in die weegskaal was.

Hoewel nie een van die twee spanne die wedstryd werklik oorheers het nie, was die tuisspan stukke beter in die vaste skrums – soveel so dat die skeidsregter, Habrey Philander, ná sowat 25 minute se spel ’n strafdrie aan die tuisspan toegeken het ná skrumoortredings deur die besoekers op hul doellyn.

In die vastelos het die tuisspan egter gesukkel om die besoekers se swaar voorspelers plat te trek. Dit het meegebring dat Rangers soms meters veld gewen het.

In die lynstane het sake min of meer gelykop verloop, ofskoon Villagers se Pernell Mendes (flank), ’n lynstaanbal of twee van Rangers gegaps het.

Dit was egter die besoekers wat die telbord ná sowat 10 minute aan die rol gesit het toe sy woelige kantman, Steven Johnson, die eerste van sy twee drieë gaan druk het. Dawie Conradie (losskakel) was in die kol met die doelskop om sy span 7-0 te laat voorloop.

Die tuisspan se antwoord hierop was ’n geslaagde strafdoel deur sy jong losskakel, Maxwell Klaasen, om die telling 7-3 te maak.

Kort daarna het Klaasen egter ’n maklike strafdoel verbrou toe hy die bal teen die linker-regoppaal vasskop nadat Rangers binne sy 22-meter-gebied vir ’n oortreding gestraf is.

Rangers het sy voorsprong gerek toe Villagers vir ’n lynstaan-oortreding gestraf is en Conradie die strafdoel tussen die pale deurgeskop het, wat die telling tot 10-3 laat styg het.

Ná ongeveer 25 minute was die spanne gelyk met 10 punte elk nadat die skeidsregter ’n strafdrie aan die tuisspan toegeken het ná herhaalde oortredings deur die besoekers op hul eie doellyn.

Die tuisspan het kort hierna die voortou met 17-10 geneem toe sy agsteman, Ulfred Terblanché, gaan druk en Klaasen verdoel het.

Die besoekers het egter die agterstand kort hierna verklein met ’n onverdoelde drie deur die spoedvraat Navan Padiachy (vleuel), wat die telling 17-15 in Villagers se guns gemaak het.

Net voordat die manne gaan water drink het, het Rangers sy neus weer voor gekry ná nog ’n suksesvolle strafdoel deur Conradie, wat die rustyd-telling op 18-17 te staan gebring het.

Spel is na die blaaskans hervat ern die besoekers het verskeie aanvalle van stapel gestuur, maar die tuisspan se verdediging het gehou. Die bal is na Conradie teruggespeel, wat onverwags tussen die 10- en 22-meterlyne van die tuisspan vasgetrap en ’n pragtige skepdoel tussen die pale deurgejaag het, met sy span se voorsprong nou 21-17.

Minute later het nog ’n suksesvolle Conradie-strafdoel die telling na 24-17 geneem nadat die tuisspan gestraf is omdat hy by die afbreekpunt van sy voete af gegaan het.

Die druk op die tuisspan het geweldig opgelaai toe die besoekers se haker, Damian May, sy span se derde drie gedruk het, wat ongelukkig nie verdoel is nie. Dit het die telbord tot 29-17 laat aanrol en die besoekers ’n buffer van 12 punte en min tyd oor gegee het’n.

Villagers het besef die uurglas loop vinnig leeg en het sy spelpeil met ’n hele paar kerwe gelig. Hy het verwoed aangeval en tot groot vreugde van sy ondersteuners twee verdoelde drieë aangeteken om die voortou geneem.

Eers het die plaasvervanger-skrumskakel, Sylvester Moses, gedruk, en kort daarna Jack van Wyk (vleuel), met die telling 31-29 vir die tuisspan ’n skrale twee punte voor.

Die spanning was byna tasbaar.

Die tuisspan se ondersteuners was uitbundig van vreugde toe die besoekers vir ’n oortreding gestraf is en Klaasen die strafdoel tussen die pale deur geskop het. Die telling was toe 34-29 en ’n oorwinning het op die horison vir die tuisspan gelê en loer.

Maar die vet antie het nog nie gesing nie . . .

Nadat spel hervat is, het die tuisspan weer pragtig aangeval. Die bal het gladweg in die agterlyn afbeweeg, maar is egter met die laaste aangee onderskep deur Rangers se regtervleuel, Dillin Tieties, wat rieme neergelê het doellyn toe.

Tieties is egter ’n paar meter van die doellyn af platgetrek, maar hy het die bal betyds vir May (haker), wat hom kom ondersteun het, aangegee. May het wel ’n paar treë gevorder, maar is ook gestuit.

Hy het die bal na Johnson (flank), wat intussen ook kom handjie bysit het, geslinger, wat vir sy tweede drie van die wedstryd oorgeval het. Conradie se doelskop was tussen die pale deur en Rangers het sy eerste ligawedstryd met ’n bonuspunt-oorwinning 36-34 gewen.

You need to be Logged In to leave a comment.