’n Man het Woensdag sy lewe verloor in ’n noodlottige ongeluk naby Bonnievale en dit het opnuut weer die aandag op padveiligheid gefokus.
Volgens die Bonnievale-polisie word ’n saak van strafbare manslag ondersoek ná ’n ongeluk op Woensdag 27 April op die R317, naby ’n plaas buite Bonnievale.
“By ons aankoms op die toneel het ’n motorfiets in die pad gelê en langs die pad het ’n volwasse man gelê wat later deur mediese personeel dood verklaar is.”
Die oorledene is deur ’n familielid geïdentifiseer as ’n 25-jarige man van Bellville.
Roekelose bestuurders
Gazette het 12 April (“Taxi ry glo ‘Oupa’ dood”) oor die tragiese wyse waarop Claude van Staden, ’n eertydse verkeersbeampte, deur ’n taxi doodgery is.
Willie Vrey, ’n inwoner van Robertson, sê mense oortree padreëls elke dag en hy vra vir ingryping deur die verkeersdepartement.
“Die dood van daardie verkeersbeampte lê by die verkeersdepartement. Hulle moet ingryp en sigbaar wees, anders gaan nog mense hul lewe verloor,” sê hy.
Vrey sê die voertuie wat bedags in Adderleystraat in Robertson ry, gehoorsaam glad nie die reëls nie.
“As jy hier kom sit by Greendoor in Adderleystraat, sal jy sien geeneen stop by daardie stop nie. Hulle jaag en steek mekaar verby by die stop.”
Hy sê die taxi’s maak ook wat hulle wil. Vrey vra dat verkeersbeamptes wet en orde moet handhaaf en spoedkameras moet opsit om te verseker inwoners hou by die spoed en padreëls.
Veiligheid op paaie
Die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke sê spoed is ’n ernstige probleem.
“Hoe vinniger jy ry, hoe minder tyd het jy om op ’n noodgeval te reageer en hoe meer spasie moet jy hê om ’n ongeluk te vermy,” sê die hulle.
Spoed is onverantwoordelik en gevaarlik. Die hoogste snelhede wat vir die week (19-24 April) deur die departement aangeteken is, was soos volg:
207 km / h in ’n 120 km / h-sone
144 km / h in ’n 100 km / h-sone
124 km / h in ’n 80 km / h-sone
104 km / h in ’n 60 km / h-sone
“Motorbestuurders wat vinnig ry, waag die lewens van die mense in hul voertuie, en die lewens van ander. Dit is die beste om stadig en versigtig te reis.”