Die 123ste weergawe van die ikoniese Paarl Boxing Day-fietsrybyeenkoms is die dag ná Kersfees op skouspelagtige wyse afgesluit met die Belgiese professionele ryer Jonas Rickaert wat ’n oorheersende oorwinning in die “25 Myl”-eindronde by die Faurestraat-stadion in die Paarl aangeteken het.
Die 28-jarige Rickaert, wat vir die UCI ProTeam Alpecin-Fenix ry, het die verdedigende kampioen, Josh van Wyk, in die 30ste rondte verbygesteek en 20 rondtes later weer ’n skof gewen – dié keer met Rickardo Broxham (Honeycomb BEE) en HP Kruger (Alfa Body Works) saam met hom.
Dit het vrugte vir Rickaert afgewerp en dié Belgiese kragjaer het ter einde op pad na die wenstreep kragte teen Kruger en Broxham gemeet, wat tweede en derde geëindig het.
Om die Minnaarbeker, wat meer as ’n eeu terug dateer, bo sy kop te lig, was ’n baie spesiale oomblik vir Rickaert. “Dit is so ’n voorreg om op Oukersdag voor só ’n passievolle skare te ry. Dit is regtig ’n emosionele oomblik.”
Die sewemalige kampioen Nolan Hoffman het ’n teleurstellende dag in die saal beleef en halfpad deur die wedren stilgehou. Die Span ENZA-kaptein vermaak al twee dekades lank die skare in ’n volgepakte Faurestraat-stadion, en ten spyte van verlede jaar se teleurstelling, het hy laat weet dat hy vir minstens nog twee jaar sal aanhou jaag. Hy sal dus vanjaar mik om ’n mitiese agtste titel te wen.
Hoffman se laaste oorwinning was in 2016 met die afgelope vier jaar wat onderskeidelik aan HB Kruger, Bernard Esterhuizen (albei Alfa Bodyworks) en Josh van Wyk (ENZA) in 2017, 2018 en 2019, behoort het. Boxing Day kon weens die Covid-19-pandemie nie in 2020 plaasvind nie.
In die ander kenmerkende byeenkomste van die dag was Rickaert ook bo in die 10 km-puntewedren gevolg deur Broxham. Die Belg was ook indrukwekkend in die Duiwel-wedren, wat hy voor ’n vegtende Jason Oosthuizen opgeraap het.
In die 1 Myl-uitnodigingswedloop het Greame Ockhuis (All 4 Security) ’n kliniese naelloopvertoning gelewer om voor sy tuisskare te wen, met die verdedigende kampioen, Wade Theunissen, wat tweede was en Nolan Hoffman derde.
Die Kierin-wedren is deur die vlieënde junior Duwayne Adams gewen.
Wynand de Villiers, die Boxin Day-organiseerder, was vol lof vir die vlak wedrenne wat in die 123ste weergawe van die gesogte byeenkoms, wat in 1897 begin het, vertoon is.
“Ons is verheug oor vanjaar se fietsry-skouspel ná verlede jaar se kansellasie. Die diepte van die veld was ongelooflik, en ek wil graag die ryers en skare bedank vir hul bydrae tot ’n skouspelagtige dag. Ons kan nie meer tevrede wees met die eer om hierdie geleentheid se wonderlike nalatenskap voort te sit nie.”
Die Paarl Boxing Day Track-fietsry word deur Alfa Bodyworks en die Stad Drakenstein aangebied en is die oudste byeenkoms in alle vorms van fietsry wat steeds in die wêreld bestaan.