ASHTON – ’n Bekende in atletiekkringe en voorsitter van die Ashton-atletiekklub is verlede week oorlede.
Volgens ’n familielid en die sekretaris van die klub, Lucreatia Jansen, was Johnny de Koker (65) se dood Donderdag 10 Maart heeltemal onverwags.
“Hy het sy eie grassny-onderneming gehad en was besig om te werk toe hy skielik net inmekaargesak het. Volgens personeel by die kliniek het hy ’n beroerte gehad, gevolg deur nog ’n erger beroerte. Sy skoonseun wat saam met hom werk, het gesien hoe hy inmekaarsak en hom na die kliniek geneem, maar Oom Johnny is met hul aankoms daar dood verklaar,” verduidelik Jansen.
De Koker is al menige jare by atletiek in Ashton betrokke, en het die klub in 2018 saam met haar en Jansen se pa, Jacobus Jansen, gestig. Hy het as voorsitter oorgeneem toe Jacobus in 2020 oorlede is.
Verder verduidelik Jansen dat De Koker ’n ware staatmaker was.
“Of dit nou vir die familie of die klub was, kon ’n mens altyd op hom staatmaak. Hy was ook ’n staatmaker in die gemeenskap en as hy jou kon help, dan het hy jou gehelp. Hy was ook baie betrokke by die kerk. Hy was ook ’n lekker grapperig mens en het naweke gebruik om seker te maak dit gaan goed met sy familie. Hy was ’n steunpilaar vir sy vrou, hul dogter en hul drie seuns.”
Jansen sê De Koker se dood het sy familie hard getref.
“Die familie is gebroke. Soms voel dit asof hy net gou êrens heen is en dat hy gou weer terug sal wees, maar dan slaan die werklikheid toe en die hartseer begin van voor af. Hy het geen kroniese siektes gehad en was ook nie ten tyde van sy dood siek nie.”