Bejaardes hou vetpretdag

Die nasionale organisasie vir bejaardes Age in Action het sy Overberg-pretdag vir mense 60 jaar en ouer verlede Donderdag (10 Maart) by die King Edward-sportterrein in Montagu gehou.


Die nasionale organisasie vir bejaardes Age in Action het sy Overberg-pretdag vir mense 60 jaar en ouer verlede Donderdag (10 Maart) by die King Edward-sportterrein in Montagu gehou.

Vyftien uit die agttien klubs vir bejaarde, wat aanvanklik aangedui het hulle gaan kom, het opgedaag en aan die dag se aktiwiteite deelgeneem.

Hulle was die Avondson-dienssentrum (Swellendam), die Disa-dienssentrum (Caledon), die Sonderend- en Sonskyn-dienssentrum (al twee van Riviersonderend), die Pearly Shell-dienssentrum (Hawston), die Silwerjare-dienssentrum (Gansbaai), die Silver Threads-dienssentrum (Ashton), die Pikkewyne-dienssentrum (Grabouw), Spring Roses-dienssentrum (Montagu), die Strandlopertjies (Arniston), die Happy Valley-dienssentrum (Bonnievale), die Thandanani-dienssentrum (Zolani, Ashton), die Ebenhaezer-bejaardesklub (Barrydale), die Langeberg Seniors (Suurbrak), die Robertson-bejaardesklub (Robertson) en die Volvertroue-dienssentrum (Stanford).

Die dag se verrigtinge is op ’n gepaste wyse deur Oom Arrie Wilschut van die Langeberg Seniors met ’n gebed geopen.

Daarna het Emmie Pekeur, voorsitter van die plaaslike bejaardesklub Springroses almal verwelkom, waarna Cheronica du Preez, die nasionale voorsitter van Age in Action, die verrigtinge amptelik geopen het.

In haar kort toespraak het sy onder meer gesê: “Vandag gaan nie soseer oor wen nie. Ons is vandag hier grootliks vir die lekker samesyn en om die dag te geniet. Tog kan vandag se aktiwiteite ook gesien word as voorbereiding vir die Goue Spele later vanjaar.”

Du Preez het voorts ook gemaan dat Covid-19-protokol steeds nagekom moet word. “Onthou tog, dra maar die maskers, handhaaf ’n veilige sosiale afstand en laat ons die Covid-protokol getrou nakom,” het sy benadruk.

Met verwysing na die Kaapse Wynlandstreek se Goue Spele (Golden Games) vir bejaardes, wat op 12 Mei in die Paarl plaasvind, het Du Preez die bejaardes se aandag daarop gevestig dat alle voornemende deelnemers teen daardie tyd ten volle ingeënt moet wees om hul deelname aan die spele te verseker.

Denzil Felix, raadslid van die Langeberg munisipaliteit, het in sy spreekbeurt onder andere die oud-staatspresident Nelson Mandela aangehaal, wat op ’n geleentheid gesê het: “Sport has the power to change the world. It has the power to inspire. It has the power to unite people in a way that little else does.” Hy het ook die senior burgers aangemoedig om die dag te geniet.

Ná die toesprake het die groepe bejaardes met hul baniere omhoog om die sportveld marsjeer, waarna die aktiwiteite begin het.

Dertien items soos kussing-tussen-die-bene-loop, eier-en-lepelloop, aantrekresies, bal-aangee, kierieloop, sakresies, om maar net ’n paar te noem, is ingespan.

Tydens die renne is deelnemers deurlopend luidkeels deur ondersteuners en spanmaats wenstreep toe aangespoor. Kostelike tonele van deelnemers wat oor hul eie voete struikel, het telkens ’n groot gelag onder toeskouers en selfs mede-deelnemers ontlok.

Dit was inderdaad ’n dag vol pret en plesier. Lekker loslit-musiek is tussendeur die verskeie sport-items gespeel en van die bejaardes het hul lywe ritmies op die maat van die musiek – tot groot vermaak van hul spanmaats en ondersteuners – gewikkel.

Die Ebenhaezer-bejaardesklub het met die prys vir die beste spangees vir die dag weggestap. Elke lid het ’n medalje, geborg deur Felix, ontvang.

Twee ongevalle het voorgekom. Een deelnemer het haar enkel in die 4×100-meter-aflos beseer en ’n ander het ’n gesigbesering opgedoen nadat ’n rukwind hul gazebo omgewaai het. Na verneem word herstel al twee mooi van hul beserings.

Du Preez het die burgemeester, Schalk van Eeden, bedank vir die gratis gebruik van die geriewe asook alle skenkers “wat toegesien het vir iets te eet en drink vir ons ouer mense. Ons opregte dank en waardering aan hulle.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.