Bejaardes heerlik bederf

Lede van die Springroses-bejaardeklub in Montagu is op Menseregtedag in ’n kuierplek vir jonges met ’n heerlike ontbyt bederf.


’n Groep senior burgers van die Springroses-bejaardeklub in Montagu is op Menseregtedag in `n bekende kuierplek waar die jongspan gewoonlik uithang, met ’n heerlike ontbyt bederf.

Twee barmhartige samaritane, Peter Strydom en Roger Johnson, ’n bekende sakeman, het met die hulp van ’n paar vrywillige hande die dorp se mees kwesbare inwoners met ’n smaaklike ontbyt vergas.

Voordat die bejaardes aan die sappige russians, roereiers, aartappelskyfies, kraaklekker spek, snytjies geroosterde brood, smaaklike hash brown– gebakte aartappel-patties en gebraaide tamatieskyfies weggelê het, het Marilyn Antonie, ’n verpleegsuster en geestelike leier in die gemeenskap, die Woord bedien.

Sy het uit Psalm 70 vers 9, ’n baie gepaste skriflesing vir die aangeleentheid, gelees: “Moenie my eenkant toe stoot noudat ek oud geword het nie; moenie my verlaat wanneer my kragte afneem nie.”

Antonie het mense herinner baie ou mense voel eensaam of verlate wanneer hulle oud word.

Lede van die Springroses-bejaardeklub

Lede van die Springroses-bejaardeklub laat waai op die dansvloer op Menseregtedag.

Sy het ’n bemoedigende boodskap gebring en benadruk hoe bevoorreg die lede van Springroses is om op só wyse bederf te word.

Voorts het sy almal herinner aan die Here se belofte in Psalm 92 vers 15, wat lui: “Al is hulle oud, sal hulle steeds vrugte dra; hulle is vars en lewenskragtig.”

Ná Antonie se opbeurende boodskap het sy die bejaardes toegesing met die lied “As the world looks upon us”.

Daarna het die ete gevolg, met ’n lekker mengsel van ouskoolse en hedendaagse musiek in die agtergrond.

Nadat die heerlike kos met ’n koppie tee, koffie of ’n glas sap afgespoel is, het ’n paar seniors dit selfs op die dansvloer gewaag.

En was dit nou nie ’n kostelike prentjie om te aanskou nie!

Om verstaanbaar redes het sommige maar moeilik aan die gang gekom. ’n Mens kon sien die gees was meer as gewillig, maar die vlees het soms erg beswaar gemaak.

Hoe dit ookal sy, hierdie onbaatsugtige daad het gewis die ouer m,ense se Menseregtedag opgevrolik.

Oor hoe die lywe die volgende dag ná al die gedansery gevoel het, kan ’n mens maar net wonder.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.