MONTAGU – ’n Bejaarde egpaar is erg getraumatiseer nadat hulle deur gewapende rowers ontvoer en beroof is.
Die egpaar se identiteit word in hierdie stadium van die ondersoek weerhou.
Dié dramatiese gebeure het Woensdag 15 Desember laatmiddag, om ongeveer 16:15, by die Monica-woonstelkompleks ’n aanvang geneem, daarna ’n draai by die Absa-bank op die dorp gemaak en later, genadiglik vir die twee weerlose bejaardes, by die Ashbury-woongebied tot ’n einde gekom.
’n Onbekende gemaskerde man, gewapen met ’n mes, het die kwesbare paartjie – albei in hul tagtigs – verras terwyl hulle rustig buite hul woonstel op die dek ontspan het. Die boosdoener het die twee bejaardes met die mes tot in die huis gedwing. Toe almal binne is, het hy die deur en veiligheidshek agter hulle gesluit.
Hy het die vrou beveel om haar man se hand aan ’n stoel vas te maak. Die booswig het toe geld van die egpaar geëis. Die vrou het hom R500 gegee, maar hy het aangedring op meer. Na bewering het die skurk gesê hy weet daar moet nog geld wees want hulle het hul plaas verkoop.
Hy het toe aangedring dat hulle bank toe gaan. Hy het onverwags ’n vuurwapen te voorskyn gebring en gedreig dat hy hulle sou doodmaak as hulle enigiets sou probeer. Die boef het die man se hand losgemaak en hulle is in die egpaar se motor na Absa-bank in Markstraat.
By die bank het die vermeende rower en die man in die motor bly sit terwyl die vrou geld onttrek het. Nog ’n man het skielik uit die bloute verskyn en ook in die motor geklim.
Hulle het toe na die Ashbury-woonbuurt gery en iewers in die buurt stilgehou. Die twee rowers het uitgeklim en die bejaardes na bewering in die motor toegesluit.
’n Rukkie later het een van die rowers teruggekom en gesê hulle moet teruggaan woonstel toe. Op pad na die woonstel het hy gevra of hy in die motor kan slaap. Die vrou het nee gesê en die motor gestop. Die skurk het toe doodluiters uitgeklim, die vrou se selfoon wat hy vroeër afgeneem het, teruggegee en verdwyn.
Die egpaar het haastig weggery en die voorval by die polisie gaan aanmeld. Hoewel albei baie getraumatiseer is, het hulle geen beserings tydens die angswekkende voorval opgedoen nie.
Adjudant-offisier Suria Meyer, ’n woordvoerder van die Montagu-polisie, het die voorval bevestig. Meyer sê voorts ’n 40-jarige man is in hegtenis geneem en word aangehou.
Hy sal van huisroof en ontvoering aangekla word.