Die Weskus-distriksmunisipaliteit (WDM) het onlangs ‘n geloofwaardige en gebalanseerde begroting vir die 2025-’26-boekjaar ter tafel gelê – ten spyte van aanhoudende ekonomiese uitdagings en beperkings op plaaslike regeringsvlak.

Die munisipale bestuurder, David Joubert, het tydens die begrotingsvergadering die finansiële afdeling, onder leiding van dr. Johan Tesselaar, geloof vir hul uitmuntende werk om ‘n realistiese en volhoubare begroting op te stel.

Die uitvoerende burgemeester, rdh. Boffie Strydom, het tydens sy toespraak verwys na die unieke finansiële uitda- gings wat distriksmunisipaliteite in die gesig staar, insluitend die afwesigheid van ‘n eie inkomstestroom en verskeie ongefinansierde mandate. Tog het hy sy vertroue uitgespreek in die begroting se vermoë om die WDM se kernprioriteite en diensverpligtinge na te kom.

Die WDM se volgehoue sukses word ook weerspieël in hul 14de opeenvolgende skoon ouditverslag – ‘n bewys van behoorlike finansiële bestuur en nakoming van regulatoriese voorskrifte.

Die munisipaliteit het onder andere ‘n nuwe streekstortingsterrein in die Matzikama-omgewing voltooi en bestuur die enigste waterkonsessie op distriksvlak in Suid-Afrika namens plaaslike munisipaliteite.

Boonop is die WDM een van slegs twee distriksmunisipaliteite in die Wes-Kaap wat deur die provinsiale regering gekies is om ‘n nuwe diensleweringmodel vir padbou- en instandhoudingswerk te toets (soos voorheen berig). Dit dien as ‘n verdere bevestiging van die WDM se rol as toonaangewende padagentskap.

Die begrotingsoorsig vir 2025-’26 lyk soos volg: Bedryfsuitgawes is R609,03 miljoen, terwyl die totale inkomste R609,57 miljoen is. Die begrote surplus kom neer op R537 020.

Kapitaalprojekte sluit in grootmaat- watervoorsiening van R3 miljoen en infrastruktuurontwikkeling van R12,34 miljoen binne die munisipaliteit.

“Speaker, ek wil alle raadslede bedank vir hul samewerking tydens die opstel van hierdie begroting,” het Strydom afgesluit. U kan verseker wees dat ek as uitvoerende burgemeester my volle samewerking sal gee om volhoubare en verbeterde dienslewering aan al ons gemeenskappe in die Weskus te verseker.”

You need to be Logged In to leave a comment.