Konstruksiewerkers het Maandag (30 Mei) menslike beendere en ’n skedel op ’n bouperseel by Fisherman’s Haven in Yzerfontein ontdek terwyl uitgrawings gedoen is.
Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, is die bouwerk op die perseel gestaak en die Erfenisstigting Wes-Kaap sal die beendere vir verdere ondersoek verwyder.
Die ontdekking van menslike beendere van historiese belang raak ’n al hoe meer gereelde verskynsel aan die Weskus, en beendere word dikwels deur boukontrakteurs gevind wanneer konstruksiewerk gedoen word.
Berigte oor baie soortgelyke historiese ontdekkings in onder meer Saldanha, Paternoster, St. Helenabaai en ook Piketberg het die laaste drie jaar verskyn.