Base wil terug; klase nie

Ná twee jaar se werk van die huis af is ’n toenemende aantal maatskappye gretig om werknemers terug op kantoor te kry.


Ná twee jaar se werk van die huis af is ’n toenemende aantal maatskappye gretig om werknemers terug op kantoor te kry.

Volgens navorsing deur Microsoft sê ongeveer die helfte van bestuurders hulle vereis reeds of beplan om van werknemers te verwag om in die volgende jaar voltyds terug te keer kantoor toe.

Maar dit blyk egter in skerp kontras te wees met wat werknemers werklik wil hê – buigsaamheid. In die verslag het 52% van die werkers wat deelgeneem het, gesê hulle oorweeg om in 2022 voltyds van die huis af te werk, of ’n hibriede model te volg.

“Baie sakeleiers het aan my gesê hulle glo nie aan die hibriede werkmodel nie en dat dit geen plek in hul maatskappykultuur het nie,” sê Elise Freedman, wat maatskappye help met die transformasie van hul werkers­korps. “Maatskappye wat egter aandring op ’n volledige ‘terugkeer na kantoor’-model kan ernstige gevolge dra as hulle nie die soort buigsaamheid en omgewing bied waarvoor werkers vra nie. Dié werkers sal eenvoudig bedank.”

Future Forum het verlede jaar meer as 10 000 werkers wêreldwyd ondervra en bevind dat werknemers en werkgewers die kwessie van terugkeer werk toe heel verskillend sien. Volgens hul navorsing het driekwart van alle bestuurders gesê hulle wil drie tot vyf dae per week op kantoor werk, vergeleke met sowat ’n derde van werknemers. Onder bestuurders wat hoofsaaklik deur die pandemie van die huis af gewerk het, sê 44% dat hulle elke dag wil terugkom kantoor toe. Net 17% van werknemers sê dieselfde.

Verskeie redes bestaan waarom werkers en bestuurders se siening oor terugkeer kantoor toe so verskil, sê Brian Elliott, Future Forum se uitvoerende hoof. Baie bestuurders het eenvoudig nie dieselfde uitdagings as hul werknemers nie en val terug op ’n verouderde siening van wat belangrik is vir ’n maatskappy om te floreer, sê hy.

“Bestuurders het gewoonlik ’n beter opset by die werk. Die meeste het ’n kantoor met ’n deur. Hulle het waarskynlik nie dieselfde kindersorg­uitdagings as baie werknemers nie. Die risiko wat ons as ’n samelewing loop – selfs in ’n hibriede werkomgewing – is bestuurders luister nie na werknemers wat buigsaamheid vereis nie.”

Forbes berig hy hou met belangstelling dop wat gaan gebeur rakende die “terugkeer-werk-toe-stryd” wat tussen werknemers en werkgewers gaan afspeel.

Navorsing toon bestuurders is nie tevrede met afstandwerk nie en het dit as ’n “negatiewe ervaring” beskryf. Hulle sal verkies dat hul personeel in ’n amptelike kantooromgewing werk.

Byna 70% het ook aangedui dat afstandwerkers “makliker vervangbaar is as werkers op kantoor”.

Sowat 62% het aangedui voltydse afstandwerk is nadelig vir werknemers se loopbaandoelwitte. Altesaam 72% sê hulle sal verkies dat al hul ondergeskiktes in die kantoor werk.

Afstandwerkers het aangedui hulle is aan die ander kant bang hulle loop geleenthede om te netwerk mis indien hulle van die huis af werk. Mense wat van die huis af werk, voel ook onder druk om meer ure per dag op hul rekenaars aangemeld te bly.

Wat ook al vir werknemers voorlê, is dit ’n feit dat kantoorwerkers nooit weer gaan terugkeer na die werksplek soos dit voor 2020 gelyk het nie.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.