Hier waar ons woon, aan die rand van die Swartland, word nogal gereeld kattekonsert gehou. Dis nou wanneer al wat ’n sirene is, in ’n dissonante kakofonie begin loei.
Soms is dit die brandweer; dan weer ’n ambulans of die polisie wat jaag. En sodra dít verby is, gaan iemand se motoralarm af, maar niemand steur hulle meer dááraan nie omdat dit so dikwels gans onnodig begin loei.
En dan klink ’n huisalarm op, wat drie verskillende deuntjies speel.
So stap ek nou die dag oor na Buurvrou – die een met die hoenders. Haar Smart staan en skreeu voor die huis dat die biesies bewe en die blare tril, maar g’n dief is binne ’n omtrek van twee kilometer te sien nie. Toe ek vra seg sy nee, niemand het by die motor ingebreek nie; dis die vlieë se skuld.
“Hoenou?” vra ek verbaas. “Yes,” seg sy, “ze flies.” “Maar ek het nog nooit gedink vlieë kan ’n motoralarm aktiveer nie,” seg ek.
Dit werk so, laat sy hoor – elke keer as sy groente vir die hoenders gaan haal, klim ’n paar vlieë ook sommer in die motor. En sodra die motor voor die huis warm gebak word, raak hulle aktief en aktiveer hulle die Smart se alarm. Alles behalwe smart vir die bure wat daarna moet luister.
Dan is daar die ander bure, meneer en mevrou Kwak van Nederland, wat gereeld oor ’n naweek weggaan. Natuurlik word die alarm aangeskakel en natuurlik begin dit loei nie lank nadat hulle die eerste draai oor Sir Lowryspas gevat het nie. En dit loei, en dit loei, en dit loei… en hulle weet van niks. Dalk is die meneer ’n kwaksalwer.
Volgende keer sal ek maar op WhatsApp ’n stemnota maak en dit vir hulle aanstuur om te hoor waarna ons die hele ganske naweek moet luister; sommer met ’n paar kil woorde by sodat hulle weet hoe ek voel. Die jimmel weet …
Eendag in ’n vorige leeftyd in Pretoria stop ek by ’n rooi verkeerslig agter ’n ambulans wat so flussies met loeiende sirenes verbygejaag het. Die volgende oomblik swaai die dubbele agterdeure oop en iemand klim uit. Ek sien beweging agter hom, en toe ek mooi kyk, sit twee van sy maters lekker en kaart speel.
Nou wonder ’n mens darem hoeveel keer word sulke sirenes misbruik – bloot om vinnig deur die verkeer te kom.
Maar hey, hoor nou dié stuk: Buurvrou met die hoenders het ’n seun in die huis. En die seun speel soms musiek dat jy dit tot in Kaapstad kan hoor. Maar nou die oggend om drie-uur raak dit darem te dik vir ’n daalder en ek bel haar nadat ek lank gewik en geweeg het.
Dis mos nou ’n onheilige tyd om onnodig wakker gemaak te word. “Hello,” antwoord ’n krakerige stem. “Hallo,” seg ek ook. Stilte. “What can I do you for?” (Uitlander, sien.) Salig onbewus van haar seun se lawaai.
“You can turn that noise down,” seg ek. Sy was seker goed die hoenders in, maar “what goes around, comes around”. En dan kan karma ook nogal lastig wees!