’n Bad-sakkie-projek genaamd Jannie-projek is deur Solidariteit Helpende Hand van stapel gestuur vir seuns wat ’n behoefte aan basiese higiëniese produkte het.
Volgens Christa Stander van Solidariteit Helpende Hand se Helderberg-tak behels die projek eerstens ’n uitreik-veldtog na die gemeenskap.
“Ons vra die gemeenskap om handewas- of stortseep te skenk waarmee die seuns hulself en hul hare kan was, sowel as tandepasta, tandeborsel en ’n waslap. Ons pak dit dan in ’n sakkie,” sê Christa.
Solidariteit Helpende Hand reik dan uit na die onderskeie skole se beraders en sielkundiges om vas te stel hoeveel sakkies by elke skool benodig word.
Volgens haar word van die sakkies by Hoërskool Strand, Laerskool Hendrik Louw en Laerskool De Hoop afgelaai sowel as by ’n paar ander skole en kerke.
“Ons gee van die pakkies ook aan hawelose mense wat op straat is.”
Die doel van die projek is om jongmanne te help om nie skaam te wees om die kop hoog te hou nie.
“Ek het ’n passie om jong seuns te help om nie te sukkel met probleme wat daarmee gepaard gaan as hulle liggame besig is om te verander nie. Onderwysers kla soms in klasse omdat van die seuns onaangenaam ruik,” sê Christa.
Die gemeenskap kan betrokke raak deur ’n skenking in Solidariteit Helpende Hand se rekening te doen of om by die produkte een van die organisasie se winkels af te laai.
’n Seun wat een van die bad-sakkies ontvang het, sê die bad-sakkie wat hy ontvang het, het nie net hom gehelp nie, maar ook sy gesin aangesien sy ma finansieel sukkel.
“Die bad-sakkie-projek het my laat besef dat daar nog mense in die wêreld is wat omgee. Ek wil eendag ook ’n helpende hand vir iemand anders wees,” sê hy. . Mense wat meer detail oor die projek wil hê of bankbesonderhede vir die projek benodig, kan Christa Stander by 079 491 1421 bel.