Kaylan Opperman (17) is Ahton Sekondêr se top-matriekleerder met ’n gemiddelde punt van 82,3%.
“Ek is baie trots op myself,” het die tiener tydens ’n telefoniese onderhoud met Gazette gesê.
Sy bieg en sê die jaar was wel baie stresvol, maar sy het net deurgedruk.
“Al was ons gewoond aan die buitengewone omstandighede van die skooljaar, het dit nie die jaar makliker gemaak nie,” meen sy.
Oor haar gemoedstoestand voordat sy Vrydagoggend haar uitslae by die skool gaan haal het, sê sy: “Ek was ewe senuagtig en opgewonde. Toe ek my punte kry, was dit nogal ’n verrassing. Ek het dit glad nie verwag nie, maar het wel gehoop ek doen goed. Ek het baie hard vir die eksamen geleer,” sê sy baie bedees.
Opperman wil graag vanjaar medies gaan studeer. Sy het by ’n paar tersiêre institute aansoek gedoen en wag nog om te hoor waar sy aanvaar is.
Maar vir eers gaan sy egter hierdie enorme prestasie vier.