ROBERTSON – Die Ashton United-rugbyklub se A-span het Saterdag (4 Junie) groot karakter op die Van Zylstraat-stadion in sy Grootuitdaagbekerliga-kragmeting teen Robertson Town getoon.
Ashton het voor ’n stampvol sportterrein met oorgawe gespeel en ’n agterstand van 12-0 uitgewis om die ligawedstryd uiteindelik 25-20 in sy guns te beklink.
Robertson, wat uit die staanspoor vinnig uit die wegspringblokke was, was in die eerste kwartier reeds 12-0 voor nadat hy twee drieë gedruk het. Een is verdoel.
Oliver Regue het ná ’n dryfmaalbeweging van ’n lynstaan af gaan druk en Collin Willemse (losskakel) het die doelskop oorgestuur.
Die tuisspan se tweede drie het gekom ná ’n lynskop deur die besoekers se losskakel, David Wagenaar, wat nie die kantlyn kon haal nie. Die tuisspan het met die bal begin hardloop.
Nadat verskeie spelers dit hanteer het, het Bomba Bakeni in die linkerhoek afgerond. Willemse se doelskop was mis.
Dié ervare Wagenaar het egter dubbel en dwars vir sy fout vergoed. Hy het meer as die helfte van sy span se punte aangeteken, wat ’n drie, twee doelskoppe en twee strafdoele ingesluit het, vir ’n persoonlike bydrae van 15 punte.
Toe hulle met 0-12 agter was, het die besoekers nie juis bekommerd gelyk nie.
Inteendeel, hulle het doelgerig begin terugveg deur die agterstand met twee suksesvolle Wagenaar-strafdoele tot ses punte te laat krimp.
En net voor rustyd het hulle die tuisspan se voorsprong so te sê uitgewis toe sy linkervleuel, Zinzan Williams, in die linkerhoek oorgedraf en sy span se eerste drie gedruk het.
Hoewel Wagenaar se doelskop links verby was, was die besoekers daarna ’n skrale enkele puntjie agter. Die rustyd-telling was 12-11; Robertson net-net voor.
Ná rustyd het die tuisspan probeer om sy skrale voorsprong met ’n Willemse-strafdoel op die besoekers se 10-meterlyn te vergroot. Die maroen truie is vir onkant spel gestraf en Willemse het pale toe aangelê. Sy skop was egter heeltemal te kort en die telling het onveranderd gebly.
Ná die eerste 20 minute in die tweede helfte het die besoekers hul gasheer vas aan die slaap gevang. Terwyl die tuisspan aangedrentel gekom het, het die besoekers ’n vinnige lynstaan geneem en die bal vir Wagenaar gegooi, wat deurgenael het vir sy tweede drie.
Die einste Wagenaar het sy eie drie verdoel, waarna die besoekers die voortou met 18-12 geneem het.
Sowat tien minute later het die tuisspan weer verslae agter sy doelpale gestaan nadat die besoekers nog ’n keer sy doellyn oorgesteek het – hierdie keer sy plaasvervanger-stut, Matthew Fluks, wat met brute krag oor die doellyn is.
Wagenaar het seker gemaak van die doelskop om die telling op 25-12 te staan te bring.
Soos verwag, het die tuisspan, wat bekend is vir sy nooit-gaan-lê-nie-houding, in die laaste klompie minute meedoënloos aangeval. Ná vele probeerslae om die besoekers se doellyn oor te steek, het Johnty Simons dit uiteindelik reggekry om in die regterhoek oor te duik.
Willemse, wat die doelskop inderhaas geneem het omdat speeltyd byna verstreke was, se skop was mis (telling 25-17 vir Ashton).
Kort nadat spel hervat is, en met slegs enkele minute speeltyd oor, het die tuisspan weer vinnig tot binne die besoekers se kwartgebied gevorder. In sy poging om die tuisspan van die doellyn weg te hou, het die besoekers ’n oortreding begaan en is hulle gestraf.
Willemse het die maklike strafskop gou-gou tussen die pale deurgeklits om die telling 25-20 te maak – die besoekers steeds voor.
Met slegs twee minute se speeltyd oor, was die tuisspan in ’n omgesukkelde bui en het geglo hy kan steeds die knoop deurhaak.
Die besoekers was egter vasbeslote om nie die wedstryd te laat glip nie en het alle aanslae van die tuisspan suksesvol afgeweer vir ’n welverdiende sege van 25-20 oor die blou-en-wit streeptruie.