As gemeenskap só help, word misdaad hokgeslaan

As die gemeenskap die polisie se oë en ore is, word misdaad sommer gou hokgeslaan.


As die gemeenskap die polisie se oë en ore is, word misdaad sommer gou hokgeslaan.

Volgens sers. Johnatan Filander, woordvoerder van die Darling-polisie, is twee mans verlede Dinsdag (12 April) onderskeidelik op aanklag van handel in dwelms en handel in dagga in hegtenis geneem.

Die een jong verdagte (18) is in hegtenis geneem nadat inligting ontvang is en die polisie in samewerking met die Swartland-munisipaliteit se wetstoepassings­beamptes ’n klopjag op ’n huis in Claredonstraat uitgevoer het.

Die man het 16 heel en twee halwe Mandrax-tablette asook 11 sakkies tik in sy besit gehad.

Die polisie het ook op ’n bedrag geld, wat moontlik deur dwelmhandel bekom is, beslag gelê.

Hy het Woensdag 13 April in die Malmesbury-landdroshof verskyn. Hy is met ’n waarskuwing hangende die uitslag van ’n forensiese ondersoek vrygelaat.

Die tweede verdagte (27) is ook op 12 April deur die polisie vasgetrek. Volgens Filander is hy op die hoek van Amandelboomlaan en Botterboomlaan in sy woning met ’n groot hoeveelheid dagga en daggaprodukte betrap.

Die polisie het die verdagte in hegtenis geneem nadat ’n wenk van ’n gemeenskapslid ontvang is. Die dagga is ook met die hulp van Swartland se wetstoepassingsbeamptes ontdek.

Hierdie verdagte het ook op 13 April in die hof verskyn en is ook op waarskuwing vrygelaat.

“Die polisie pleit by die gemeenskap om alle onwettige aktiwiteite te staak en ons vra almal om misdaad aan te meld,” het Filander gesê.

“Alle inligting sal met die nodige vertroulikheid hanteer word. Die polisie wil ook van die geleentheid gebruik maak om diegene wat die inligting aan die polisie verskaf het, te bedank.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.