Anna grootste wenner by Kannas

Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se Kannapryse, wat erkenning gee aan produksies en individue vir uitnemende bydraes tot die fees, is op 22 April by ’n swierige geleentheid by M-Studios in Philadelphia, Kaapstad, aangebied.


Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se Kannapryse, wat erkenning gee aan produksies en individue vir uitnemende bydraes tot die fees, is op 22 April by ’n swierige geleentheid by M-Studios in Philadelphia, Kaapstad, aangebied.

Die akteur Marion Holm was die aanbieder en pryse in 19 kategorieë is uitgedeel.

Die geleentheid is regstreeks aanlyn gestroom na Netwerk24 en die KKNK se web- en Facebookblad en is steeds daar beskikbaar.

Die huldigingsproduksie aan die ontslape Pieter Fourie, Ek, Anna van Wyk, was die groot wenner van die aand en het met vyf Kannas weggestap – vir beste teateraanbieding, regie, ontwerp (Marthinus Basson), vroulike akteur (Tinarie van Wyk Loots) en manlike byspeler (Carlo Daniels).

Die produksie wat die 70ste verjaardag van twee ikone Antoinette Kellermann en Antjie Krog gevier het, die oerkluts kwyt, is met twee Kannas vereer – vir uitnemende literêre bydrae (Frieda van den Heever) en beste vroulike byspeler (Ancient Voices).

Karatara, ’n uitsonderlike multi-dissiplinêre dansproduksie en roerende blik op die impak en gevolge van die Knysna-brande in 2018, het die prys vir beste debuutdrama ontvang.

Die Absa Kanna vir bydrae tot visuele kuns is vanjaar toegeken aan die kunstenaar Karin Preller vir haar uitstalling, Beyond Memory, en Emo Adams & Take Note is as beste

musiekproduksie vereer met hul energieke en uitstaande optredes by die fees. Wessel Pretorius is as beste akteur aangewys vir sy spel in die Baxter-teater se produksie, Kiss of the Spider Woman.

’n Nuwe konsepteaterprojek, Lucky Pakkie-teater – kort stukke in verskillende dissiplines wat deur ’n verskeidenheid opkomende en meer gevestigde kunstenaars as verrassingspakkette aangebied is – is ook met groot opwinding deur feesgehore ontvang.

Om skoon te wees, geskryf deur Adriaan Havenga, met Havenga en Conradie van Heerden in die rolverdeling, is aangewys as die beste stuk van dié projek.

Mirinda Ntantiso is as beste opkomende kunstenaar aangewys vir haar spel in Op hierie dag, ’n teaterproduksie wat as deel van die KKNK se Oudtshoorn-gefokusde projek, Karoo Kaarte, aangebied is.

Karoo Kaarte het ook die Herrie-prys ontvang. Dié prys word jaarliks aan ’n individu, projek of produksie deur die paneel toegeken vir grensverskuiwende werk wat feesgangers laat gons het. Karoo Kaarte is ’n multi-dissiplinêre kunsteprojek wat deurlopend in Oudtshoorn deur die kunste en spesifieke prosesse ’n verskil in en sosiale impak op die dorp en streek bewerkstellig.

Die projek, onder leiding van Neil Coppen en Vaughn Sadie, fokus ook op vaardigheidsontwikkeling en langtermynwerkskepping.

Talle spesiale tegniese pryse is in 2018 by die Kannas ingestel om ook aan die individue wat agter die skerms werk en die ruggraat van die fees is, erkenning te gee.

Hierdie jaar is drie pryse oorhandig – ’n spesiale prys vir opkomende tegniese talent is aan Clayton Carlson oorhandig; Braam Avenant is vereer vir sy uitnemende tegniese bydrae oor die jare by die KKNK en Jeanne Steenkamp is vereer as verhoogbestuurder en vir bydraes oor die afgelope dekades.

Danie Maart het ook ’n spesiale Kanna ontvang vir sy diens van 20 jaar aan die KKNK.

Vanjaar se Kannapaneel het bestaan uit Diane de Beer, Laetitia Pople, Marguerite Robinson, Gary Naidoo, Alby Michaels en Robyn van de Rhede.

Die sameroeper van die onafhanklike paneel was Rafiek Mammon.

Mammon sê: “Ek is amper te bang om te sê ‘geluk’ en ‘welgedaan’ aan net dié wenners,” verduidelik Mammon..

“Ek wil liewer praat oor hoe ’n enorme taak dit was om by die kortlys van benoemdes uit te kom, omdat die gehalte van die werk so goed is!

“Dít is maar waaroor dit gaan – die gehalte van die werk wat kunstenaars en teatermakers vir vanjaar se KKNK gelewer het.

“Dit is asof die afgelope twee jaar se grendeltydperke en Covid-19 almal aangemoedig het om beter en sterker anderkant uit te kom, met ’n duidelike hongerte en begeerte om goeie teater te wil maak.”

Die Kannapryse en -geleentheid is geborg en ondersteun deur Absa, die Het Jan Marais Nationale Fonds, Netwerk24, die ATKV, NATi, Alert Patrol Security, Beans About Coffee, die Oudtshoorn-sakekamer, Wicus Pretorius, Ton en Anet Vosloo, M-Studios, Brainwave Productions, MultiMedia, XL-EVENTS, Van Loveren Wyne en die SAB.

Die wenners ontvang geldpryse en ’n houtsneebeeld deur Collen en Johannes Maswanganyi.

Crispin Sonn, voorsitter van Kunste Onbeperk, het in sy toespraak die borge en vennote vir hul volgehoue ondersteuning bedank – nie net vir KKNK 2022 nie, maar ook die ondersteuning wat lojale vennote, onder meer Absa, Media24, die Het Jan Marais Nationale Fonds, NATi, die Oudtshoorn-munisipaliteit en die Wes-Kaapse regering se departement van kultuursake en sport, asook ander borge en donateurs gebied het.

Hy het ook gesê met hul ondersteuning kon die KKNK kuns en kultuur steeds deur die moeilike tye bevorder en ook uitgebreide werksgeleenthede in die kunste vir honderde kunstenaars en tegnici skep.

Hugo Theart, artistieke direkteur van Kunste Onbeperk en die KKNK, het gesê die afgelope paar jaar was baie uitdagend en teaters en die feeste begin nou weer stadig hul voete vind.

“Die KKNK was die eerste volwaardige kunstefees in twee jaar in Suid-Afrika.

“Dit was ’n fees van dankbaarheid en hoop. Behalwe vir borge en donateurs wat dit alles moontlik gemaak het, moet ons ook ons gehore bedank. Hulle het entoesiasties teruggekeer en dit was wonderlik om weer ons fees-familie bymekaar te hê.”

Hy het ook die permanente KKNK-personeel bedank vir hul deursettingsvermoeë gedurende die afgelope jare en maande, asook die tydelike personeel wat ingespring het en die 26ste KKNK ’n reusesukses gemaak het.

Theart het ook aangekondig dat die beplanning vir die 27ste KKNK in 2023 in Oudtshoorn reeds begin het en belowe feesgangers kan hulle regmaak om weer van 1 tot 9 April aanstaande jaar na Oudtshoorn op te ruk vir ’n fees van hoëgehalte musiek, -teater en -gesprekke.

Hy het ook genoem dat klassieke musiekliefhebbers kan uitsien na Klein Karoo Klassique, wat weer van 5 tot 9 Augustus vanjaar ’n paar verrassings en formaat-aanpassings insluit.

Die volledige program sal teen die middel van aanstaande maand (Mei) bekend gemaak word.

’n Ander hoogtepunt vir later vanjaar is ook die Teksmark, wat weer aan die einde van Augustus saam met NATi en die Baxter-teater in Kaapstad aangebied sal word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.