Die De Blom-venue in Moorreesburg verwelkom op 26 en 27 Maart die musikant Andre Juan met twee vertonings wat beloof om gaste te laat lag, huil, dans en nostalgies te laat raak.
Oorspronklik van Benoni in die ooste van Johannesburg waar hy grootgeword het, vertel Andre Juan musiek was van kleintyd af nog altyd in een of ander vorm deel van sy lewe gewees.
Die belowende musikant, wat deesdae in Stellenbosch woon, was tot onlangs, van 2018 af, deel van die sanggroep, il Quattro. Die groep het nege maande op ’n keer deur Europa getoer – van Spanje tot Finland – waar hulle in “classical crossover”-styl musiek gemaak het, vertel hy.
“Weens Covid wat die wêreld getref het begin 2020, moes ons terugkeer en het ek dié tyd gevat om myself weer te leer ken as solokunstenaar, te skryf en myself werklik weer te vind en my eie musiek uit te bring,” vertel hy.
Oor sy opkomende vertoning by De Blom sê hy die optredes sal werklik iets vir ieder en elk inhou.
“Ek deel my stories deur liedere te doen wat werklik iets vir my beteken. Asook ’n treffer of twee op die beautiful klavier wat hulle daar besit, aangesien om agter ’n klavier te sit en te speel een van my gunstelingplekke is. Ek sê altyd daar waar ’n klavier is, dis daar waar ek tuis is.”
Andre Juan sal om 19:00 op 26 Maart en 14:00 op 27 Maart by die De Blom-venue in Goedehoopstraat, Moorreesburg te sien wees. Kaartjies kos R80 per persoon en is beskikbaar by Marius; skakel 082 953 6942. Bring eie verversings en drinkgoed saam.
Andre Juan se musiek is beskikbaar op alle groot digitale platforms. Volg hom ook gerus op YouTube en Facebook by “Andre Juan” en op Instagram by @andrejuan_sa.