Die 17de aanbieding van die jaarlikse SA Terroir-wynpryse, wat die afgelope vier jaar deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) aangebied word, lê voor die deur, met die inskrywings wat in die middel van Junie sluit.
Volgens Christo Pienaar, die voorsitter van SANWSV, dien hierdie kompetisie as erkenning aan kundige wynmaakspanne wat die wynland se vele puik grond- en klimaat-terreine ten volle benut en uitleef. “Die Kaapse wynland is ’n uitbeelding van Suid-Afrika se landbouvaardigheid, wat internasionaal gerespekteer word. Ons wynland, wat topgehalte wyndruiwe van verskeie kultivarsoorte lewer, is uitsonderlik wêreldwyd. Daarom verdien die uitnemende eindproduk in die bottel, waarvan al die druiwe uit eiesoortige terreinkenmerke, of terroir, na vore kom, hierdie gesogte pryse. Die SA Terroir-wyntoekennings beeld dít ten volle uit.”
Slegs wyne wat by die Wyn- en Spiritusraad gesertifiseer is as wyn van oorsprong van ’n spesifieke wyk, ’n distrik wat nie in meer as een wyk verdeel is nie, ’n landgoed-geproduseerde wyn en enkelwingerdwyn, mag aan die terroir-kompetisie deelneem.
Sedert die SANWSV – ook die aanbieder van die gesaghebbende Veritas-toekennings – die SA Terroir wyntoekennings by die gewese private organiseerders oorgeneem het, is meer as tien nuwe wyke in verskillende wyndistrikte deur die Wyn- en Spiritusraad as eiesoortige wynterreine goedgekeur en afgebaken.
’n Goeie voorbeeld hiervan is die Stettyn-wyk naby Villiersdorp in die Worcester-distrik. In die eerste jaar, 2020, wat Stettyn Family Vineyards met wyne van oorsprong uit die Stettyn-wyk kon deelneem, is hierdie kelder bekroon met die gesogte trofee vir SA se top-terroir-produsent.
Hierdie trofee is in 2014 die eerste keer toegeken, en die wenner was die Jordan-landgoed in Stellenbosch; daarna Nuy (Worcester), Bergsig (Breedekloof, twee keer), Groot Constantia (Constantia), Bon Courage (Robertson), Stettyn (Worcester) en Rietvallei (Robertson).
Inskrywings vir die kompetisie sluit vanjaar op 15 Junie en laat inskrywings op 24 Junie teen ’n hoër tarief. Die aflewering van monsters vir beoordeling geskied op 23 en 24 Junie. Die beoordeling vind van 12 tot 15 Julie plaas en die uitslae word in Augustus aangekondig.