Toegang tot die strand op Yzerfontein is vir almal eersdaags ’n realiteit.
Voorbereiding tot die uiteindelike konstruksie van die splinternuwe oprit vir mense met gestremdhede, gebreke, bejaardes of selfs ’n stootwaentjie vir babas, het verlede week amptelik afgeskop.
Die inspirasie agter die langverwagte en nodige ontwikkelingsprojek is onder meer te danke aan drie plaaslike inwoners van die dorp. Die jong Charlie McNeil Wheatley en die tweeling, Annika en Chené Venter, wat elk aan ’n skaars vorm van serebrale Ataxia ly, sal nou saam met alle besoekers, Yzerfontein se strand kan geniet. Die konstruksieprojek wat sowat ses weke lank sal duur, behels die opknapping en verlenging van die bestaande oprit na die strand, wat oor die jare heen verweer het. Besoekers met gebreke kan nou slegs tot by die parkeerarea teen die strand kom, tensy hulle gedra word, wat nie altyd ideaal is nie, vertel Tarina Steenkamp, een van die betrokkenes by die projek.
Die projek word onder leiding van die plaaslike konstruksiemaatskappy, McNeil Construction uitgevoer, waarvan boukontrakteurs Cecil McNeil Wheatley, Charlie se oupa en Douglas McNeil Wheatley, sy pa, aan die stuur is. Cecil het vir eers sy aftrede opsy geskuif vir die duur van die projek sodat sy kleinseun, Charlie, sy voete sonder enige struikelblokke in die sand kan steek.
Beplanning aan die oprit het reeds vroeg verlede jaar begin, hoewel doeltreffende finansiering tot die uitvoer van die projek tekort geskied het. Groot opgewondenheid met die breek van die nuus het behoorlik op sosiale media gegons en ondersteuning vanuit alle oorde het vinnig ingestroom, wat die projek ’n moontlikheid gemaak het. Die projek is voorwaar ’n gemeenskapsprojek wat onder meer ondersteun word deur plaaslike inwoners en ondernemings van die dorp én streek, die Swartland-munisipaliteit en die plaaslike toerismekantoor, voeg Steenkamp by.
’n Suksesvolle geldinsamelingsgeleentheid in die vorm van ’n veiling, het die afgelope Desember-vakansie, op 30 Desember plaasgevind. Die voormalige Springbok-kaptein, Jean de Villiers, was teenwoordig en het groot belangstelling gelok toe hy Schalk Burger se rugbytrui van die 2011-wêreldbeker-kwarteindstryd teen Australië opgeveil het. Talle items, waaronder ’n slagskaap, wyn en ander pryse, is ook vir die doel geskenk.
Nie net het organiseerders die geskatte bedrag van ’n R150 000 vir die bou van die oprit oorskry nie, maar is baie konstruksiemateriaal boonop ook geskenk. Alle surplusfondse gaan aan Yzerfontein se ACVV geskenk word. Hoewel daar nog nie besluit is waarop dié ekstra geld bestee gaan word nie, is daar reeds gekyk na wat die behoeftes onder plaaslike bejaardes is.
Hou die Facebook-blad, “Yzerfontein Disability Beach Ramp Project” dop vir meer inligting oor die projek en hoe om daarby betrokke te raak.