Almal help in dié tyd

Dit is in tye van nood wat mense leer om saam te staan. Die Covid-19-pandemie, wat die land in ’n staat van inperking gedwing het en wêreldwyd ook talle eerste wêreldlande gebukkend laat, het tog die mensdom genoop om nie net na hul eie belange om te sien nie, maar ook ’n helpende hand aan…



Dit is in tye van nood wat mense leer om saam te staan.

Die Covid-19-pandemie, wat die land in ’n staat van inperking gedwing het en wêreldwyd ook talle eerste wêreldlande gebukkend laat, het tog die mensdom genoop om nie net na hul eie belange om te sien nie, maar ook ’n helpende hand aan die mees weerloses in die gemeenskap uit te steek.

Terwyl talle mense gedurende die tyd van inperking nie ’n inkomste verdien nie en dus sukkel om kos op die tafel te sit, het plaaslike owerhede, vrywilligers en sakeondernemings hul hulpbronne saamgesnoer om seker te maak dat diegene wat niks het om te eet nie, gevoed word.

Swartland-munisipaliteit het sedert die begin van die inperking die Bloues-sportterrein in Malmesbury vir haweloses oopgestel met 40 tweemantente wat deur die Weskus-distriksmunisipaliteit voorsien is om haweloses te huisves. Vrywilligers help ook daagliks om haweloses hiér van kos te voorsien.

Haweloses word ook by die Rosenhof-sportterrein gehuisves en kos word aan minderbevoorregte gesinne uitgedeel. Moorreesburg en Koringberg-toerisme help hiér die munisipaliteit om die projek te koördineer.

Volgens Anél King van die toerismekantoor het die gemeenskap behoorlik hande gevat om te help met liters sop wat deur verskeie restauranteienaars en individue gekook word en skenkings van komberse, kussings, handdoeke, niebederfbare kos, vars produkte, klere, skoene, vleisprodukte en nog meer wat ontvang is. Ander weldoeners het al oor die tydperk worsbroodjies en skyfies, vispasta en wortelbredies aangedra en Swartland-rally maak tamatiebredie. Die haweloses is tot met kerrievis oor Paasnaweek bederf. Meals on Wheels het ook intussen aangesluit en verskaf ook daagliks bakkies kos.

Verder is verskeie anonieme kontantskenkings ontvang waarmee noodsaaklikhede soos tandeborsels, seep, koffie, melkpoeier, konfyt, brood, botter, sanitêre ware, vars vrugte/groente aangekoop is.

“Doornkloof-dierehospitaal kyk na van die honde wat onder die haweloses gekry is en een van die babahondjies, Sally, is by Judy Basson in ‘pleegsorg’ geneem.

“Ek dink die lewe van elkeen betrokke by hierdie projek sal nooit weer dieselfde wees nie. Die dag toe die handdoeke uitgedeel is, kom een van die ouer mans stadig na my aangestap, handdoek styf teen sy bors vasgedruk . . . ‘Mev. Anél, kan ek hierdie handdoek hou? Ja, oom dis joune – mevrou – ek het nog nooit ’n handdoek gehad nie’. Hy is 60 jaar oud  . . . Die boodskap is: Waardeer mekaar en dit wat jy het en dalk vanselfsprekend aanvaar. Bly veilig! Dankie Moorreesburg!”

Enigiemand wat betrokke wil raak of hulp benodig kan die toerismekantoor se Facebookblad by “Moorreesburg & Koringberg Tourism” besoek of Anél bel by

022 433 1072 of 082 731 3432.

Intussen het die Tigerbrands-stigting ook na die gemeenskappe van Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes uitgereik om kinders, wat normaalweg van die departement van onderwys se voedingskema afhanklik is vir ’n maaltyd, van kos te voorsien. Die Tigerbrands-stigting is ’n vennoot van die departement van basiese onderwys en die Gouda-wind-energieplaas. Tot op hede is 830 kospakkies aan kinders wat deur skole in die gebied geïdentifiseer is se huise afgegee. Hy beoog om oor die volgende drie maande in afwisseling kospakkies aan die geaffekteerde families uit te deel. Die stigting voorsien ontbyt aan 3 300 leerders by tien skole in landelike gebiede.

Daar is ook talle organisasies sonder winsbejag, vrywilligers weldoeners en kerkinstansies wat in hierdie tyd agter die skerms werk om die omstandighede vir diegene in hul woongebiede of dorpe beter te maak.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.