Hoërskool Swartland in Malmesbury pronk met ’n slaagsyfer van 100% – dit teenoor ’n slaagsyfer van 99,35% in 2020.
Uit die 138 leerders wat verlede jaar die nasionale seniorsertifikaateksamen geslaag het, is ’n allemintige 222 onderskeidings behaal. Altesaam 19 kandidate met ’n A-gemiddelde en drie A-plus-kandidate het Vrydag hul toekoms met ’n juigende hart aangepak. Die skool pronk verder met 92,75% van sy leerders wat toelating tot baccalaureur-studies (universiteitstoelating) het.
Vanjaar se toppresteerder van HSS is André Steyl met ’n gemiddelde 93,7% en sewe onderskeidings. Hy het wel goeie uitslae verwag, maar nie om as die toppresteerder van HSS aangekondig te word nie, sê hy. Hy studeer vanjaar BSc Kernfisika aan die Universiteit Stellenbosch (US). “Ek skryf my goeie punte toe aan hard werk en hard leer, maar ook my gesin en vriende wat bankvas agter my gestaan en my gemotiveer het.”
Sy boodskap aan vanjaar se matrieks is om te leer, maar ook om ’n goeie balans te handhaaf wat jou matriekjaar alles bied – van akademie en sport tot samesyn. “Geniet die jaar, maar bly hard werk,” voeg hy by.
Die leerder met die meeste onderskeidings, wat met agt A’s spog, is Imke Erasmus. Sy gaan vanjaar BRek aan die US aanpak. Erasmus sê haar uitslae het al haar verwagtinge oortref. Sy skryf haar uitslae toe “aan die Here wat my met ’n gesonde verstand geseën het, my liefde vir somme maak en my leergierigheid.” Haar ouers ondersteun haar ook al sedert daardie eerste toets in Graad 1. Hul raad aan haar was goeie punte is nie altyd alles nie, maar sy moet dit geniet om haar kennis te verbreed. Erasmus wil vanjaar se gr. 12’s motiveer om hul kant te bring, maar ook die onderwysers in die vakke uit te daag. “Sodra dit vir jou lekker raak om oor die werk te bespiegel, raak dit lekker om te leer,” voeg sy by. Sy het ’n gemiddelde van 91,9% behaal. Wilmarie Braxton was kort agter haar (90,6%), ook met sewe onderskeidings.