Sr. Marieta Jooste van Malmesbury het pas afgetree as hoofverpleegkundige by Aandskemering tehuis vir bejaardes.
Sy vertel: “Op my eerste dag by Aandskemering het ek besef ek sal vinnig moet uitvind wat is oudword régtig en wat behels aftree en ouetehuise.”
Daarom het sy nagte omgewerk, navorsing gedoen en programme vir weeklikse groepbesprekings uitgewerk.
“Die huidige 80-plussers het die depressie- en oorlogsjare beleef, die jare van stilbly en geen vrae vra oor sensitiewe sake nie. Hulle het die eerste maanlanding, die koms van televisie, rekenaars en kitsbanke beleef; hul kleinkinders praat deesdae van vreemde nuwe skoolvakke en slimfone; en hulle hoop altyd op kontak van familielede daarbuite.
“Verder word hulle blootgestel aan reekse verliese – selfstandigheid, beweeglikheid, erkenning en finansies. En om soms net weer hul hand in die vertroude koekblik bo-op die kombuiskas te kan steek.
“Ouetehuispersoneel mag nooit net vaskyk teen inwoners se fisiese behoeftes nie. Etes, slaapplek en medikasie ís belangrik; maar ons mag nooit die psigiese sy van menswees vergeet nie. Al lê daar later net ’n bondeltjie mens op daardie bed, wil hulle graag steeds ’n keuse hê en met respek behandel word.
“Met groepbesprekings kon ons openlik praat oor onderwerpe wat voorheen vir hulle taboe was. As kinders is hulle geleer om nie te praat oor sensitiewe sake nie (“the silent generation”), maar hulle hét vrae oor veranderende waardes, egskeiding, homoseksualiteit, hul vrese om na die afdeling vir verswaktes verskuif te word . . .”
Wanneer Marieta by groepbesprekings iemand sien wat baie hartseer ronddra, het sy dit individueel opgevolg. “Ons moet altyd die mens agter die plooie raaksien, hulle is immers ‘biblioteke vol kennis’.
“Ons het begin Bingo speel, met klein pryse as aanmoediging. Bingo het gewild geraak! Tydens inperkingsdae was Bingo oor die interkom ’n goue draad van kommunikasie, met verpleegsters wat in die gange staan en hiermee help.”
Om mediese suster te wees vir ooms en tantes wat haar ouers se goeie vriende was, was soms moeilik. “Dan gebeur die interessante ding dat ’n bejaarde man – tydgenoot van my pa – vir my as Suster Jooste aanspreek om afstand te skep sodra intieme mediese prosedures nodig raak. Wanneer ons gesellig gesels, raak ek weer Marieta.
“Suster Jooste moes in die pandemie dikwels besluite neem wat selfs vir Marieta die mens moeilik was, veral inperkingsreëlings. Dan breek my hart vir hul afgesonderdheid agter toe deure!
“Moet nooit ’n bejaarde onderskat nie. Hulle hoor soms beter as wat ons dink; hulle besef vinnig as familielede iets probeer wegsteek; hulle het steeds ’n opinie en die begeerte om self besluite te neem.”
Nou is sy afgetree en proe-proe aan die nuwe vryheid. “My nege jaar by Aandskemering was die beste jare van my lewe, met soveel liefde wat ek van inwoners ontvang het. Die grootste les wat ek geleer het? Wees versigtig met ’n leke-diagnose dat iemand aan demensie ly. Ons plaas dikwels ons eie diagnoses en stigma’s aan bejaardes – as’t ware diskriminasie teen die ouderdom.”