Afrigter vir bydrae vereer

Hendrik Steyn (62), ‘n skopboks-afrigter van Malmesbury, is onlangs vir sy bydrae tot sport in Suid-Afrika vereer.


Hendrik Steyn (62), ‘n skopboks-afrigter van Malmesbury, is onlangs vir sy bydrae tot sport in Suid-Afrika vereer.

Hy het die erkenning op 13 Maart gedurende ‘n spoggeleentheid by die Kronenburg-landgoed in die Paarl ontvang as sportpersoonlikheid op verskeie gebiede, soos onder meer afrigter, administrateur en deelnemer. Die toekenningsgeleentheid was deel van ‘n inisiatief van die Wes-Kaapse regering waartydens mense ouer as 55 jaar vir hul prestasies gedurende 2024 vereer word. Ricardo McKenzie, die provinsiale minister van sport, het Steyn se toekenning aan hom oorhandig.

“Ek was gelukkig om ook daar vereer te word vir my rol as afrigter en die werk agter die skerms om ons jong mense te bemagtig,” vertel ‘n beskeie Steyn, wat sedert 2021 voltyds by die Titans Fitness and Martial arts Academy in die Paarl afrig.

Sy pad met sport het egter jare gelede in KwaZulu-Natal begin. Sport het van kleins af ‘n groot rol in sy lewe gespeel.

As kind het hy aan verskeie skoolsportsoorte deelgeneem. Hy het gedurende sy laerskooldae ook boks, judo en selfs karate beoefen.

Sy grootste inspirasie vir die sport was legendariese sportlui soos die destydse Pierre Fourie, Muhamad Ali en verskeie ander van daardie tyd.

As ‘n volwassene het Steyn aanhou sport doen, wat onder meer klubrugby en muurbal in Pretoria ingesluit het, maar meestal net boks geoefen om die vaardigheid te behou. Hy het ‘n

uiters besige werkskedule as ontwerp- ingenieur en het hy al sy sportbedrywighede vir ‘n paar jaar lank op die agtersitplek geplaas, vertel hy.

“Ek het egter op ‘n dag in 2016 besluit ek moet fiks word. Omdat boks ‘n fisiek uitdagende sport is en ek van omtrent sewejarige ouderdom geboks het, het ek besluit dit sal die beste sport wees om my fiksheid in ‘n kort tydjie te verskerp en ek geniet in elk geval die sport,” brei hy opgewonde uit.

Volgens Steyn bied weinig gimnasiums vandag slegs boks aan, maar eerder ‘n verskeidenheid gevegskunsvorms onder een dak. “Dit het my goed gepas, want ek was ook lus vir die uitdaging waar jy nou nie net jou hande gebruik om te veg nie, maar ook jou voete, bene, knieë en elmboë.”

Steyn het op 52-jarige ouderdom amptelik by ‘n gimnasium in die Paarl aangesluit en nooit weer teruggekyk nie.

Die sentimeters wat hy om sy middellyf afgeskud het, was ook nie te versmaai nie, skerts hy.

Hy het in Januarie 2016 by ‘n ander gimnasium aangesluit, wat sedert 2019 as die Titans Fitness and Martial Arts Academy bekendstaan. Daar het hy oor ‘n tydperk van nege jaar van ‘n witgordel tot eerstedanswartgordel gevorder. Steyn het klas begin aanbied kort nadat hy sy blougordel verwerf het, wat deel van die sillabus is, om deelnemers se vermoë om instruksies en kennis van die sport te kan oordra en te demonstreer, beklemtoom. “Ons hoofafrigter het my in daardie stadium die geleentheid gegee om gereeld af te rig.” Die saadjie is geplant en Steyn was sedert 2021 afrigter vir lede op alle vlakke – van beginners tot mededingende atlete.

Die wedersydse respek onder atlete, die nederigheid, afwesigheid van ego’s en die kameradie onder almal – selfs tussen deelnemers en hul teenstanders – is die aspekte wat Steyn die meeste van dié sport geniet. “Hierdie sport vereis geweldige toewyding. Dit is regtig ‘n harde sport wat fisiek uitdagend is, maar daar is ook ‘n groot mate van bevrediging, selfs al kry jy ‘n blou oog of ‘n bloedneus in die proses,” lag hy.

Volgens hom is die vlak vaardighede ook veeleisend.

Groot vreugde word ook as afrigter langs die kryt ervaar waar hy sy deelnemer kan motiveer, aanmoedig en raad gee voor en tydens ‘n kompetisie asook wanneer hulle na hom luister en presies doen wat hy voorstel en dan met ‘n goue medalje wegstap. Steyn is in 2023 gekies om die Boland-span (Kaapse Wynland) af te rig. Hy is verlede jaar gekies om die 2025-WP-span eersdaags as afrigter na die SA nasionale kampioenskap in New Castle, KwaZulu-Natal, te vergesel. Die kampioenskap is van 26 tot 29 April.

Die grootste uitdaging as afrigter vir hom is om die jong mense se aandag deurgans te behou.

Volgens hom is die meeste van die oefeninge wat hulle doen, daarop gemik om veral jong deelnemers se postuur, balans, koördinasie en deursettingsvermoë te bevorder.

Steyn wil oor die volgende twee jaar as afrigter op die jonger geslag, wat hy voorberei om oor te neem, fokus. “Dit is my droom om te sien hoe die jonger geslag opstaan en klasgee en hul

vaardighede demonstreer soos hulle geleer is – nes afrigters 50 jaar gelede ‘n blywende indruk op my gemaak het. Vir my is dit belangrik om hierdie vaardighede en lesse aan die jonger geslag oor te dra.”

‘n Beskeie Hendrik Steyn (62) hou sy toekenning omhoog wat hy onlangs by ‘n sportgeleentheid vir sy bydrae tot sport as afrigter en deelnemer ontvang het.
Hendrik beoefen die buitemuurse sport boks al van sewejarige ouderdom af.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.