Die rugbywedstryd Saterdag (7 Mei) tussen Abbotsdale en Porterville op Abbotsdale se sportveld het tot groot opwinding gelei.
Abbotsdale is tot nou nog onoorwonne in die liga en sou gewis moeilik voor sy tuisskare geklop word.
Porterville het egter ander planne gehad en met skitterende spel die Lillies uit die staanspoor onder druk gehad. Die besoekers se voor- en agterspelers het goeie samespel bewerkstellig en Abbotsdale se verdediging ’n paar keer oopgekloof. Porterville het die bal die praatwerk laat doen en ná goeie kreatiewe spel is die besoekers met die eerste drie van die wedstryd beloon.
Met beter afronding deur Porterville kon die rustydtelling van 12-3 veel anders gelyk het, maar met die wind van agter sou dit ’n groot terugvegpoging van die Lillies verg om die wedstryd in sy guns te swaai. Die afrigtingspan van Abbotsdale moes veel vroeër as verwag hul ervare plaasvervangers Eschel Josias, Sheldon Appollis en Wium Syster op die veld stuur.
Abbotsdale se voorspelers het stelselmatig die oorhand begin kry en Abbotsdale het beter gebiedsvoordeel geniet.
Ná volgehoue druk is die heelagter Draigh Schierhout oor vir ’n drie om die telling 19-15 in die guns van Porterville te maak.
Abbotsdale het met vyf minute speeltyd oor nog ’n drie gedruk om die eerste keer die voortou in die wedstryd te neem.
Porterville het egter nie gaan lê nie en met ’n minuut se speeltyd oor is sy agterlyn weer deur Abbotsdale se verdediging.
Maar, met die doellyn oop het die besoekers ’n gulde geleentheid verbeur, wat die wedstryd in sy guns sou geswaai het.
Abbotsdale het die wedstryd 20-19 gewen, maar Porterville kan meer as tevrede voel oor sy vertoning. . Abbotsdale reis Saterdag na Riebeek om teen die span van Good Hopes te staan te kom.