Die manne van Abbotsdale het Saterdag 23 April hul liga-verpligtinge teen Saron afgeskop.
Die Lillies, wat ’n redelike jong span in die veld gestoot het, moes omtrent hul storie ken gedurende die eerste helfte van die wedstryd. Hoewel Saron met die wind van voor gespeel het, kon hulle steeds in goeie gebiede van die veld rugby speel om die Lillies deurgaans onder druk te hou. Dit was egter die voorspelers van Abbotsdale Junaid Afrika, Shane Niemand en Milroy Isaacs wat deurgaans hul span op die voorvoet geplaas het met hul kraglopies.
Met die rustydtelling 24-10 in die guns van Abbotsdale en Saron wat in die tweede helfte met die wind van agter sou speel, was die wedstryd alles behalwe gewen. Abbotsdale se plan om die bal in die hand te hou in die tweede helfte was egter een te veel vir die besoekers. Die Lillies het aanval ná aanval geloods en was glad nie skugter om die bal wyd te speel nie. Dit was veral die breekslag van die plaasvervanger-stut, Eschel Josias, wat die skare op hul voete gehad het terwyl die heelagter Kurt-Lee Klaasen en losskakel Godwin Goliath Saron telkemale aan die raai gehou het. Klaasen sowel as Shane Niemand is elk met twee drieë beloon, terwyl Berthrum Gysenberg 20 punte, wat ’n drie, ’n strafdoel en vyf doelskoppe insluit, aangeteken het. Die eindtelling was Abbotsdale 50-20 Saron.
Puntemakers:
Driee: Curt-Lee Klaasen (2); Sergio Prins; Bertrum Gysenberg; Shane Niemand (2); Eschel Josias.
Doelskoppe: Gysenberg (5)
Strafdoel: Gysenberg (1)
Abbotsdale se tweede span moes 14-12 die knie buig teen Saron nadat hul deurgaans die oorhand in hierdie wedstryd gehad het.
Die derde span-wedstryd was afgestel.
Volgens die ligarooster het Abbotsdale en Koringberg mekaar Saterdag (30 April) die stryd aangesê. Gazette moes, weens Maandag se openbare vakansiedag, vroeër by die drukkers wees en kon daarom nie die eindtelling van dié wedstryd plaas nie.
Swartland-klubs se ligawedstryde vir Saterdag 7 Mei lyk soos volg:
. Abbotsdale vs Porterville
. Darling vs Good Hopes
. Wesbank vs Never Despair
. Moorreesburg vs VillgersWW
. Saron vs Korenberg