Skole was veronderstel om op 31 Maart te open.
President Cyril Ramaphosa het egter die inperking verleng en talle leerders se skoolwerk word nou op internetplatforms aangebied. Marius Koekemoer, skoolhoof van Laerskool Overberg in Caledon, vertel die Klein Ovies is aan die gang met hul akademiese werk. “Net voor die skool gesluit het, het ons die nuus gekry dat die skole ’n paar dae later sou oopmaak. Die onderwysers het vir die leerders werk gegee om in hierdie tyd te voltooi.” Koekemoer verduidelik nadat die president die inperkingstyd verleng het, het die bestuurspan van die skool vergader om die situasie rakende tuiswerk aan leerders te bespreek. “Daarna het die personeel vergader om die finale plan saam te stel om tuiswerk aan die leerders te stuur. Die vergaderings is deur middel van Zoom gedoen.”
Die skoolhoof sê die personeel het besluit die leerders se tuiswerk moet deur middel van WhattsApp-boodskappe aan ouers gestuur word. “Klasonderwysers het dus WhattsApp-groepe gestig en daar word gekonsentreer om elke dag huiswerk van huistaal en wiskunde te stuur.” Koekemoer verduidelik die res van die vakke word afgewissel en memorandums van tuiswerk wat gedoen word, word ook beskikbaar gestel. “Onderwysers is ook sekere tye beskikbaar vir ouers as hulle vrae het.” Hy sê die faktore wat ’n rol by die personeel se besluit gespeel het, was die beskikbaarheid van data en omstandighede van verskillende leerders se huishoudings. “Algemene kommunikasie word deur middel van die Communicator D6Plus gedoen.”
Volgens Koekemoer bied die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) ondersteuning deur skoolwerk aanlyn beskikbaar te stel. “Die aanlyn skoolwerk van die WKOD word aan ouers gestuur, maar dit kan bykomend gedoen word aangesien ekstra data hiervoor nodig is.”
Georgina Simons, waarnemende skoolhoof van Swartberg Primêr, vertel sy wil so graag uitreik en die leerders help, maar daar is baie struikelblokke. “WKOD stuur inligting aan, maar hoe kry ons dit by die kinders, want ons moet die reëls en regulasies van die regering gehoorsaam.” Leerders van die skool het nie almal toegang tot die internet nie en baie besit nie ’n selfoon nie.
“Die nuwe kwartaal se werk moet aan die kinders verduidelik word en ek het hulle gevra om baie te lees en wiskunde te doen.” Simons verduidelik daar is baie van die onderwysers wat vir hul leerders take via WhatsApp-groepe gestuur het. “Ongelukkig is daar baie ongeletterde ouers wat nie hul kinders met die skoolwerk kan help nie.”
Simons verduidelik voorts die skool beskik oor ’n voedingsprogram. “Die mense wat hiermee help, is Theresa Plaatjies, waarnemende onderhoof, Mercia van der Schyff en Abigail Arries, assistente van die program en Leon Januarie, die voorman, wat help met die voorbereiding van die kos. Leerders kry twee maaltye per week. “Met die hulp van Kerk van God se bussie word die kos by die kinders afgelewer. Ons berei die kos by die skool voor en dan lewer hulle dit af. Die voedingsprogram sal voortgaan tot die inperking opgehef word.”Simons rig ’n vriendelike versoek aan ouers om die inperkingsreëls te gehoorsaam en hul kinders veilig hou.
“Ons mis al die kinders verskriklik baie en sien uit daarna wanneer almal weer veilig terug by die skool kan wees. Ek wil al die onderwysers bedank wat moeite doen in hul privaat hoedanigheid om uit te reik na die ouers en leerders.”
• Bronagh Hammond, direkteur van kommunikasie by die Wes-Kaapse onderwysdepartement het verlede Vrydag by navraag gesê die datum van die heropening van skole is nog nie deur die departement van onderwys bekend gemaak nie. “Daar was geen finale voorstelle nie. Baie kalenderdatums is voorgestel, maar niks is gefinaliseer nie.”