Hoërskoolleerders het die geleentheid om gratis vir beter eksamenuitslae voor te berei ná die afgelope twee jaar se onderrigonderbrekings.
’n Program wat gesamentlik deur die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) en die Universiteit Stellenbosch (US) aangebied word, genaamd die Telematiese Skoleprojek (TSP), brei aanlyn-leerondersteuning uit vir leerders in grade 10 tot 12. Die inhoud word in Engels en Afrikaans aangebied. Dit is gratis om hiervoor te registreer en benodig verder geen data nie.
Al wat leerders hoef te doen om toegang te kry tot die kursuswerk in 18 vakke: van tale (English, Afrikaans en isiXhosa) tot by Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Rekeningkunde, Geskiedenis, Geografie en meer is om op die nulgegradeerde Telematiese Skoleprojek se webblad te registreer. Al wat nodig is, is ’n persoonlike e-posadres.
Ná hulle geregistreer het, kry leerders onmiddellik toegang tot regstreeks uitgesaaide aanlyn onderrig of, as dit geriefliker is, tot opgeneemde weergawes van die lesse waardeur hulle op hul eie tyd en teen hul eie tempo kan werk. Hulle kan so veel kere as wat hulle wil, terugkeer na die lesse tot hulle voel hulle is voldoende vertroud met die werk.
Hulle kry ook toegang tot al die video’s van lesse, werkboeke, hersieningsprogramme en opsommings van kursusinhoud, insluitend ander materiaal soos infografika, asook oefenvraestelle om hulle te help om al die onderrig- en leertyd wat sedert 2020 verloor is, in te haal. Gehalteversekering van die inhoud word deur senior kurrikulumbeplanners van die WKOD gedoen. Aanlyn toegang kan ook via Facebook verkry word, maar gebruikers het dan hul eie data nodig.
Dr. Glynis Schreuder, hoof opvoedkundige spesialis: Kurrikulum VOO (Verdere Onderwys en Opleiding) en projekbestuurder van die TSP by die WKOD, verduidelik: “Ons is opgewonde oor die aantal skole wat van die fasiliteit gebruik maak en ontvang positiewe terugvoer oor hoeveel dit die leerders help om die kurrikulum te bemeester en ook om moontlike kurrikulumverliese /agterstande as gevolg van die roterende tydrooster tydens die pandemie in te haal. Hulle kan na inhoud wat regstreeks uitgesaai word in die klaskamer kyk en interaktief deelneem, of hulle kan in toepaslike tye in die skoolprogram na opgeneemde sessies kyk.”
“Ons moedig alle leerders in grade 10 tot 12 aan om individueel te registreer om verder voordeel te trek. Selfs al neem hulle op skool deel, kan hulle ook op hul eie tyd na die werk terugkeer en so gereeld nodig deur die opgeneemde uitsendings werk.”
Sy voeg by dat buiten die uitsaai van lesse oor spesifieke onderwerpe word kwartaallikse hersieningsprogramme ook verskaf. “Die hersieningsprogram som elke kwartaal se werk op om leerders te help om verder vertroud te word met die sillabus. Ons begryp die lewensdruk waaronder leerders is. Ons wil hê hulle moet die gebruik van hierdie verkorte inhoud so doeltreffend moontlik in hul daaglikse realiteite kan integreer.”
Voorts bied TSP toegang tot lewensvaardighede-werksessies en video’s, inligting oor werkgereedheid, voorbereiding vir werkonderhoude en hoe om ’n CV te skryf.