Só lyk die baadjie wat op die toneel van die inbraak by Ormonde-wynlandgoed gevind is.


Die spreekwoord lui: “Moenie iemand op sy baadjie takseer nie,” maar kan ’n baadjie wat op die toneel van ’n inbraak gevind is, die polisie in die rigting van die inbreker wys?

Die polisie is op soek na iemand wat ’n baie kenmerkende baadjie tydens die April-inbraak by die Ormonde-wynlandgoed aangehad het.

Die draer van die baadjie kan moontlik met hierdie misdaad verbind word. Die polisie vermoed die mens wat by die kelder ingebreek het, het moontlik dié blou Plattner Racing-baadjie aangehad. Die inbreker het dit heel waarskynlik op die toneel uitgetrek en dit het daar agtergebly nadat hy of sy met die buit gevlug het.

Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder van die Darling-polisie, het die inbreker of inbrekers toegang tot die Ormonde-gebou verkry deur ’n venster oop te dwing. Potte, panne, kos en antieke ware is gesteel en vermoedelik in ’n wielietjiesdrom van die perseel af vervoer.

Filander sê die inbrekers het gewis geweet waar al die infrarooistrale geleë is om te vermy dat dit die alarm aktiveer. Die inbreker of inbrekers moes duidelik ook geweet het waar elke kamera geïnstalleer is.

Die polisie sê die inbreker het sy of haar huiswerk voor die Ormonde-inbraak goed gedoen, of andersins is die inbreker moontlik betrokke by die instansie en goed bekend met die veiligheidstelsels.

Volgens Filander word al ’n paar agtereenvolgende jaar gereeld oor dieselfde tyd by Ormonde ingebreek.

Die inbraak by Ormonde is een van vier inbrake wat tussen 17 en 29 April in die Darling-omgewing plaasgevind het.

Die Plattner Racing-perdestal is by die Rondeberg- private natuurreservaat langs die R27-Weskuspad tussen die Darling-afdraai en die Grottobaai-afdraai geleë.

Enigeen met inligting oor die baadjie of die inbraak word vriendelik versoek om die Darling-polisiekantoor by 022 409 1300 te skakel. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.

You need to be Logged In to leave a comment.